Harde werk, selfdissipline en ‘n gebalanseerde roetine is maar ‘n paar van die sleutels tot Volkskool se top akademiese presteerder, Yentl Lamprecht, se sukses. Yentl het in die 2020 matriekeindeksamen agt onderskeidings behaal met ‘n verstommende 92,9 persent gemiddeld. Hierdie blondekop het onderskeidings in Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, Wiskunde, LO, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskap, IT en Musiek behaal. Sy was die topleerder in Fisiese Wetenskap met 97 persent gemiddeld, sowel as Wiskunde met 96 persent gemiddeld.

“Ek hou baie van probleemoplossing en ek het nog altyd ‘n voorliefde vir biologie gehad. Musiek speel ook ‘n groot rol in my lewe en ek is bly dat ek daarmee as ’n vak aangehou het,” vertel Yentl wat tydens haar eindeksamen talle kere kitaar gespeel het om bietjie van die leerwerk te rus. Nou bevind hierdie slimkop haar by die Universiteit van Stellenbosch (Maties) waar sy vanjaar B.Sc. Bioinformatika en Berekeningbiologie begin studeer. Al is dit ‘n nuwe plek duisende kilometers van haar Potch tuiste af, sien hierdie oud Laerskool Baillie Park leerder vreeslik uit na die universiteitslewe.

“Ek het verlede Donderdag in die koshuis ingetrek en al is alles nuut, is die mense regtig vriendelik. Ek sien regtig uit. Hierdie graad meng IT, Wiskunde en Biologie en ek hou van die analitiese aspek daarvan,” noem Yentl, wie se naam afkomstig is van die 1983-fliek, Yentl.
Dit is juis toepaslik dat Yentl se naam met ‘n bekende rolprent geassosieer word, aangesien sy verlede jaar ook ‘n hoofrol in Volkies se eerste tuisgemaakte fliek, ‘n Brokkie van My Hart, gehad het. 2020 was ook juis uitdagend vir baie matrieks wat in ‘n abnormale jaar meer tyd tuis as in die klaskamer moes spandeer. Vir Yentl was dit die perfekte geleentheid om skouer aan die wiel te sit en haar tyd goed te gebruik om haar leerwerk onder die knie te kry.
“Ek dink ek was bietjie skoolonfiks toe ons na die eerste groot lockdown teruggegaan het skool toe. Ek het nogal my werk goed by die huis gedoen en kon goed beplan. Ek is ‘n oggendmens so ek kon daardie tyd goed gebruik om werk af te handel,” verduidelik Yentl. Sy is ook baie dankbaar vir haar onderwysers wat ‘n groot rol in haar akademiese suksesverhaal gespeel het.
“Baie mense se dat hulle onderwysers die beste is, maar ek weet dat ek by Volkies die beste onderwysers gehad het. Hulle het dit lekker gemaak en ek het baie by hulle geleer,” noem Yentl.
Video: Woema/Youtube
Balans is juis iets waarop Yentl klem lê vir die huidige matrieks wat vanjaar hulle laaste skooljaar aanpak. “’n Mens moet van die begin af hard werk en seker maak dat jy die konsepte verstaan. Dit is ook belangrik om genoeg te slaap en ook genoeg oefening te kry. Ek het ook tussen sessies gereeld my kitaar opgetel en gespeel.”
Vir oefening het Yentl, ‘n ywerige gimnas, aan Crossfit deelgeneem. Sy het ook voorheen gereeld gimnastiek gedoen, voordat Covid-19 sy verskyning gemaak het. Yentl se akademiese prestasies lê definitief ook in haar gene met haar ma Huibré wat ‘n advokaat en finansiële adviseur is en haar pa dr. Adriaan Lamprecht, wat ‘n bekende Hebreeuse dosent by die NWU is. Haar jonger sussie Cara, is tans ‘n Gr.11-leerder aan Volkskool.
Haar ouers is dankbaar dat hulle deel is van haar lewensreis en het hulle blydskap met die volgende treffende woorde opgesom:
“Diep gewortel in ‘n liefdestuin van Wiskunde, Latyn en Musiek, aan die walle van ‘n nederigvloeiende stroom van omgee vir haar Skepper en medemens, kon Yentl se deursettingsvermoë en harde werk aan die plantjie wat aan haar toevertrou is, net die mooiste vrugte dra.”




