CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Twee Promosa-inwoners dood en 15 beseer op pad terug van begrafnis

Twee inwoners van Promosa is dood en 15 beseer toe hulle Opel Corsa bakkie Sondagaand, 11 April reg van voor met ‘n Hilux dubbelkajuitbakkie gebots het.

Twee inwoners van Promosa is dood en 15 beseer toe hulle Opel Corsa bakkie Sondagaand, 11 April reg van voor met ‘n Hilux dubbelkajuitbakkie gebots het. Die ongeluk het om 19:30, slegs 30km buite Potchefstroom, plaasgevind.

Willemina Erns (60) is op die ongelukstoneel dood en haar seun, Ricardo Erns (28) het later in die Potchefstroom Hospitaal aan sy beserings beswyk. Hulle het voor in die bakkie gesit toe die voertuie gebots het. Hulle Corsa bakkie het ‘n kap (canopy) agter opgehad waarin ses volwassenes en sewe kinders vervoer is. Almal wat agter op die bakkie was, het die ongeluk wonderbaarlik oorleef.

Vier kinders en een volwassene is ernstig beseer en sterk steeds in die Potchefstroom- en Carletonville Hospitaal aan. Die vyf insittendes in die Hilux-bakkie is ook ernstig beseer.

Sendelien Schoeman (22) wat saam met haar ma en twee kinders agter op die Corsa bakkie was, se rug en skouer is beseer, haar dogter Kendre (5) se voet het seergekry en haar seun Kenzo (1) het aan skok gely.

Kendre Schoeman (5), Kenzo Schoeman (1) en Sendelien Schoeman was agter op die bakkie met die kap (canopy) toe die ongeluk gebeur het. Foto: Venessa van der Westhuizen

“Die bakkie het gerol met ons almal agter in. Tog kan ek dit nie onthou nie. Ek kan net onthou dat ek na die slag die kinders uit die bakkie probeer kry het. Een van die kinders, Jamol Moos (2), wat agter saam met ons gesit het, het ons voor in die bakkie gekry. Hy het ‘n skedelfraktuur opgedoen en is steeds in die hospitaal,” vertel Sendelien.

Beradine Moos is die ma van Jamol Moos (2) wat ernstig beseer is en steeds in die Potchefstroom Hospitaal behandel word. Foto: Venessa van der Westhuizen

Sy sê dat die familie almal Sondagaand van Klipspruit in Johannesburg na Promosa op pad was. Hulle het Saterdag Ricardo Erns se ouma, Willemina se skoonma, begrawe. Shaydene Erns (29), Ricardo se vrou, was steeds te geskok om met die Herald oor haar man te praat. Sy sê hy het in Johannesburg by Signs Craft gewerk en dat hulle saam vier kinders het.

Willemina Erns laat ses dogters, ‘n suster en kleinkinders agter. Begrafnisreëlings vir Ricardo en Willemina is nog nie gefinaliseer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button