Local newsNewsNews

Gimmies se spelkoning wen nasionale kompetisie

Nie net kon hierdie graad-11 leerder blitsvinnig sy spelvermoë bewys nie, maar met ‘n persentasie van 97.77 persent is hy as die ATKV-DigiSpel nasionale wenner in die graad 10-12 kategorie aangewys.

In slegs 4 minute en 58 sekondes het die slimkop en gretige taalliefhebber van Potchefstroom Gimnasium, Josef Joubert, in Maart vanjaar die nasionale ATKV-DigiSpel spelkompetisie aanlyn voltooi.

Nie net kon hierdie graad-11 leerder blitsvinnig sy spelvermoë bewys nie, maar met ‘n persentasie van 97.77 persent is hy as die ATKV-DigiSpel nasionale wenner in die graad 10-12 kategorie aangewys. “Ek is baie dankbaar dat ek kon wen en weer iets in die spelling en taal bereik het. Ek het eers in April by die skool uitgevind dat ek gewen het, want ek het die e-posse gemis,” noem hy.

Daar was altesaam 830 deelnemers in verskeie ouderdomsgroepe, maar vir Josef was dit nie die eerste keer dat hy heel bo op die podium in ‘n spelkompetisie is nie. Josef het in beide graad 8 en 9 as Hoërskool Piet Potgieter-leerder, aan die Sanlam WOW (Woorde Open Wêrelde)-spelfees deelgeneem en ook dié kompetisie vir twee jaar in ‘n ry gewen.

Dit is juis ‘n indrukwekkende prestasie omdat dit die groot Afrikaanse spelfees in die land is.

“Juffrou Annemarie Jones, my graad 5 Afrikaanse onderwyseres het ‘n groot rol in my liefde vir taal gespeel. Sy het al die ou Afrikaanse liedjies verduidelik en my baie met my taalfoute gehelp. Ek het altyd baie vrae gehad en die kinders het altyd gewonder hoekom ek so baie vrae vra,” lag hy.

Hierdie juffrou het toe ook vir Josef en sy ma na die WOW-spelfees in die Kaap vergesel, wat ook een van Josef se hoogtepunte as kind was.

“In graad 8 in Potgietersrus het ek ook ‘n goeie onderwyser, juffrou Joekie Lessing, gehad wat my baie met my spelling gehelp het.

Danksy haar en my ouers se hulp en bystand het ek toe vir twee jaar in ‘n ry (2018 en 2019) die WOW-spelfees gewen.

Boonop het Josef ook in sy graad 9-jaar aan KykNet se Op Die Spel-kompetisie op TV deelgeneem en die semi-finale bereik. Josef noem dat hy bly is om aan die ATKV-DigiSpel spelkompetisie te kon deelneem, aangesien hy weens die Covid-19 pandemie nie sy titel as WOW-spelfees wenner kon verdedig nie.

“Die hele DigiSpel-kompetisie was aanlyn en het uit een uitdunrondte bestaan. Daar is drie gedeeltes. Die eerste deel flits daar woorde op die skerm waar jy vinnig moet kyk en die antwoord gee. So jou oë moet baie mooi saamwerk. Die tweede deel bestaan uit oudio waar woorde gevra word sowel as sinne waar korrekte spelling nodig is en die regte woord in die sin geplaas moet word. Ek dink dit is hier waar die kaf van die koring geskei word,” verduidelik hy.

Josef noem dat hy nie spesifieke gunsteling woorde het nie, maar wel ‘n groot liefde vir ‘n groep bekende Afrikaanse musikante het. Hy is mal oor Afrikaanse musiek, veral kunstenaars soos Koos du Plessis, Laurika Rauch, Sonja Herholdt en Anton Goosen. “Ek is nie mal oor die Afrikaanse musiek van vandag nie en dit vergelyk nie altyd met die vorige kunstenaars se musiek van ‘n paar dekades gelede nie,” noem hy.

Korrekte spelling is iets wat nie altyd met tieners geassosieer word in die digitale wêreld waar SMS-taal baie keer kop uitsteek nie. Maar vir Josef is spelling ‘n belangrike aspek van taal en iets wat hy voel nie genoeg aandag kry nie.

“Spelling is belangrik omdat dit ‘n taal kweek en sorg dat ‘n taal nie uitsterf nie. In die hedendaagse samelewing is dit so gereeld dat ‘n taal aan die agterspeen van ander dinge suig.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button