Baillies vier 60 jaar met skouspelagtige revue
Die produksie het gehore op ’n musikale reis deur sewe dekades geneem, met leerders van graad 1 tot 7 wat elkeen ’n spesifieke tydperk deur musiek, dans en kleur uitgebeeld het.
Laerskool Baillie Park het sy 60ste bestaansjaar op gepaste wyse vanjaar gevier met Dekades op die Lug, ‘n briljante reveue wat van 28 tot 30 Oktober in die Noordwes-Universiteit Ouditorium aangebied is.
Die produksie het gehore op ’n musikale reis deur sewe dekades geneem, met leerders van graad 1 tot 7 wat elkeen ’n spesifieke tydperk deur musiek, dans en kleur uitgebeeld het.
Ná maande se harde werk, toewyding en ontelbare oefensessies was dit uiteindelik tyd vir die leerders om hul staal op die verhoog te wys. Drie aande lank is die gehoor op ’n nostalgiese reis vol musiek, dans, kleur en onvergeetlike herinneringe geneem.
Elke graad het ’n besondere tydperk laat herleef. Die graad 1’s het met die 1960’s se “Saam Skaterlag” die pret afgeskop, gevolg deur die graad 2’s se 1970’s “Dans en Droom” en die graad 3’s se energieke 1980’s “Energie en Entoesiasme”.
Die graad 4’s het die 1990’s met “Kampioene” laat herleef, terwyl die graad 5’s die 2000’s met “Ambisie” verteenwoordig het. Die graad 6’s het die 2010’s met “Dinamies” aangepak, en die graad 7’s het die reis met die 2020’s se “Epic Survivors” op indrukwekkende wyse afgesluit.
’n Besonderse voorreg was die teenwoordigheid van twee voormalige skoolhoofde, mnr. Piet Müller en mnr. Leon de Beer, asook talle oudonderwysers wat hierdie spesiale geleentheid saam met die Baillie-familie kom vier het.



Nog ’n hoogtepunt was die optredes van die bekende gaskunstenaars Bouwer Bosch en Pieter Smith. Wat hul optredes nóg meer spesiaal gemaak het, is dat albei self oudleerders van Baillies is. Dit was beslis ’n trotse oomblik vir die skool.
“Agter elke suksesvolle vertoning staan ’n span toegewyde mense. ’n Opregte dankie aan elke leerder, ouer, grootouer, familielid, onderwyser en personeellid wat gehelp het om hierdie droom op die verhoog te verwesenlik. Ook ’n Baie spesiale woord van dank aan juffrou Marina (de Beer) en juffrou Maretha , wat met groot toewyding aan die stuur van hierdie besondere produksie gestaan het,” het Madelaine Zerwick, onderwyseres by Laerskool Baillie Park genoem.



