VIDEO: Twee studente ernstig beseer na bakkie omkeer
Twee studente is ernstig beseer nadat die bakkie waarin hulle was, omgekeer het.

Twee studente is ernstig beseer nadat die bakkie waarin hulle was, omgekeer het.
Die ongeluk het Donderdag (29 April) omstreeks 22:46 naby die Shell vulstasie op die Bult plaasgevind.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, het hulle die ongeluk opgemerk waarna hulle die reaksie-eenheid en ER24 na die toneel ontbied het.
ER24 het twee studente wat ernstig beseer was na Mediclinic Potchefstroom hospitaal vervoer.
Diana King, woordvoerder van die hospitaal, het bevestig dat ʼn agtien- en twintigjarige student Donderdagaand by die noodgevalle eenheid van die hospitaal opgeneem is. Die twintigjarige het ernstige hoofbeserings opgedoen en is na die Garden City Clinic in Johannesburg oorgeplaas. Die agtienjarige het frakture en snywonde aan sy regterarm opgedoen en sterk steeds in Mediclinic hospitaal aan.
Mooirivier Beskerming het gesê nege mense was in die ongeluk betrokke. Die ander sewe het slegs skraapwonde opgedoen. Volgens kapt. Aafje Bothma, woordvoerder van die polisie in die Noordwes, is geen saak vir roekelose en nalatige bestuur by die polisie aangemeld nie.




