Omheining nou ‘n permanente oplossing vir vliegtuigparkie se besoedeling
Die parkie op die hoek van O.R. Tambo- en Van der Bentstraat is oor die afgelope jare berug vir die middedorp se besoedeling, maar die nuwe mede-eienaar het 'n permanente oplossing om die parkie skoon en veilig te hou.
Die parkie op die hoek van O.R. Tambo- en Van der Bentstraat is oor die afgelope jare berug vir die middedorp se besoedeling. Die Herald het al ‘n paar keer oor die skoonmaakpogings berig wat Potch Clean-up en studente van Potchefstroom Akademie daar gedoen het. Dit is ook as die uithangplek vir dwelmgebruikers en prostitute bekend.
Een van die nuwe eienaars van Eb’s Hardeware, Christie Lauwrens, voer al die afgelope jaar ‘n verbete stryd om die parkie netjies te hou en ruim elke oggend self die parkie op. Hy sny ook gereeld die parkie se gras en het ervaar dat die parkie meer rondlopers en dwelmverslaafdes nader lok wanneer dit nie opgeruim word nie. “Die ongure karakters wil ook nie hê ek moet die parkie opruim nie. Ek is al ‘n paar keer met lang messe en pangas gedreig wanneer ek daar skoonmaak, maar ek het net besluit dit gaan my nie onderkry nie,” vertel Christie.
Hy sê dat die skoonmaakproses elke dag uitgevoer moet word en dat die opruimingswerk deur die week nie so groot is soos op Maandae wanneer hy weer die naweek se rommel moet optel nie. Dit is ook die plek waar diewe die artikels weggooi wat hulle nie gebruik nie. “Ek het juis Volkswagen motorsleutels en ID-dokumente wat ek in my kantoor veilig bêre,” gaan hy voort.
Christie het besef dat hy nooit die stryd sommer gaan wen nie en sê dit is gewoonlik oornag wat die lieplappers daar nesskop en vuur maak. Hy is nou bereid om op eie onkoste die parkie te omhein en spreiligte te laat installeer. Die omheining sal hekke hê wat hy saans sal sluit en in die oggende vroeg weer sal oopmaak. “Ek wil graag hê die kinders wat die klimapparaat en swaaie hier gebruik moet dit in ‘n veilige omgewing doen.
“Hier is spuitnaalde en gebreekte gloeilampe wat dwelmgebruikers gereeld net neergooi, om nie te praat van die tientalle kondome wat ek gereeld hier moet optel nie.” Christie se plan om die park te omhein dra ook die goedkeuring weg van die leraar van die St. Mary’s Anglican Church, Mark Holden. Dié kerk is naby die park geleë. Holden het saam met Christie die munisipaliteit en polisie genader om die nodige goedkeuring te kry. Christie moes ook die toestemming van die inwoners van die omliggende woonstelle en meenthuiskomplekse kry. Gelukkig was almal positief en maar te bly iets word gedoen om hul area te beveilig. Die amptelike dokumente wat hom die groen lig gee om voort te gaan, het hy twee weke gelede ontvang.
Die stasiebevelvoerder van die Potchefstroom polisiestasie, brig. Steven Moodley, bedank Christie en die leraar van die St. Mary’s Anglikaanse Kerk op die Potchefstroom Tourism Association se Facebookblad vir hulle poging om die park te beveilig.




