CommunityNewsNewsPhoto Galleries

DA kla NW Gesondheid aan vir ambulansbasisse wat nie aan wetgewing voldoen

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noordwes is besig om strafregtelike klagtes teen die departement van gesondheid by die Valke in te dien weens bestuurslui wat versuim om vir die nodige bedryfspermitte vir ambulanse by die JB Marks ambulansbasis in Potchefstroom aansoek te doen.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noordwes is besig om strafregtelike klagtes teen die departement van gesondheid by die Valke in te dien weens bestuurslui wat versuim om vir die nodige bedryfspermitte vir ambulanse by die JB Marks ambulansbasis in Potchefstroom aansoek te doen.

Die klagtes word teen die administrateur, Jeanette Hunter, LUR, Madoda Sambatha, die departementshoof, Obakeng Mogale, en die stasiebestuurder, Solly Klaassen gerig.   Die klagtes volg nadat die provinsiale wetgewer se portefeuljekomitee vir gesondheid tydens ‘n inspeksie vasgestel het dat die staatsambulanse en -reaksievoertuie nie operasionele permitte het nie.  

Wetgewing verplig staatsinstellings om spesiale lisensies vir ambulansdienste en noodvoertuie te hê. Die Nasionale Gesondheidswet, 61 van 2003, bepaal dat “‘n persoon, organisasie of staatsorgaan nie sonder die nodige lisensie nooddienste mag vestig, beheer, verander, hernoem, tydelik of permanent hervestig of verander nie.” Dr. Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het in 2017 regulasies vir nood mediese dienste ingestel sodat staatsnooddienste almal aan dieselfde kwaliteitstandaarde voldoen.  

Gavin Edwards, voorsitter van die portefeuljekomitee oor gesondheid, sê die ambulansbasis kon verlede jaar nie die inspeksie slaag nie en tot op hede is geen poging aangewend om die situasie te verbeter nie. “Gevaarlike afval word nie korrek weggegooi nie, wat beteken dat die ambulansbasis ook nie voldoen aan die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur en Afvalbeheer nie.

Daar word ook nie aan die norme en standaarde voldoen om suurstof in ‘n geïsoleerde gebied te dekanteer nie. Dit word tans in die liasseringskamer gedoen wat baie gevaarlik is omdat suurstof uiters vlambaar is. In die geval van ‘n brand kan alle lêers vernietig word en die lewens van werknemers bedreig”, sê Edwards.  

Die DA het by verskeie geleenthede sy kommer teenoor LUR Sambatha en administrateur Jeanette Hunter uitgespreek dat ambulans- en nooddiensregulasies in Noordwes geminag word, maar dit word geïgnoreer.   Edwards sê die versuim van die Noordwes gesondheidsdepartement om die nakoming van regulasies te verseker, word as ‘n strafregtelike wetsoortreding beskou en is by skuldigbevinding strafbaar met ‘n boete van hoogstens R500 000 of gevangenisstraf van hoogstens vyf jaar.  

Die woordvoerder van die departement gesondhed, Tebogo Lekgethwane, het gesê hy sal later kommentaar lewer wanneer hulle die klagstaat ontvang het.

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button