CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Oupagrootjie vier 90ste verjaarsdag

Theuns Botha het op 24 Junie 90 jaar oud geword. Kinders en kleinkinders het kreatiewe planne bedink om sy groot dag te vier.

Om 90 jaar oud te word is vir min mense beskore. Hierdie besondere mylpaal word gewoonlik met groot feesvierings tegemoet gegaan. Maar met die gevreesde virus aan die broei, is dit helaas taboe om soos die Israeliete van ouds in honderde saam te drom en vir sewe dae en nagte lank partytjie te hou. Dit het dus baie kreatiwiteit van Theuns Botha se kinders en kleinkinders geverg om die groot 90 met genoeg oemf te vier.

Rina Boneschans, Theuns se dogter by wie hy tans bly, het vir familie en vriende gevra om elk ‘n kort video met gelukwense te maak. Al dié videos is na ‘n familielid gestuur wat dit in ‘n enkele video geredigeer het. Die besondere boodskappe is op sy verjaarsdag gespeel. Kinders en kleinkinders wat nie sy verjaarsdag kon bywoon nie, het vir Rina hul geskenke koerier. ‘n Boks met al dié geskenke het hy toe op sy verjaarsdag oopgemaak.

Sy kinders wat in Potchefstroom bly, het vir hom ‘n klein geselligheid gereël. Tydens dié geleentheid het hy helium ballonne gekry met boodskappies van die kinders en kleinkinders. Nadat hy elke boodkskap gelees het, het hy die balonne in die lug vrygelaat en dit baie geniet om te sien hoe elke ballon ‘n klein stippeltjie in die lug word.

Theuns Botha is op 24 Junie 1931 in Brakpan, Gauteng gebore. Met sy goeie sin vir humor het hy graag die storie van sy geboorte aan sy kinders vertel wanneer hulle wou weet waar die litteken op sy been vandaan kom. Volgens hom was sy ma nie by die huis toe hy gebore is nie. Hy het toe later baie honger geword en deur die huis gekruip tot hy by die broodblik uitgekom het. Dit was die broodblik wat hom gesny het toe hy brood wou uithaal.

Vir Theuns is dit baie spesiaal om 90 jaar oud te word. “Om nege dekades te kon leef gee my die voorreg om 2021 met 1940 te kan vergelyk en met eerstehandse kennis daaroor te kan praat. “Dit gee my ook die insig om die tegnologie van vandag meer as die jonger geslag te geniet en te waardeer omdat ek daarsonder grootgeword het”, sê Theuns wat op sy dag ‘n industriële ingenieur was.

Die goeie raad wat hy gee vir mense om so oud te word soos hy is om op te hou rook. “Ek het op 16 jaar begin rook toe iemand my op ‘n trein oppad werk toe ‘n sigaret aangebied het. Ek het ‘n kettingroker geword en met tye tot soveel as 60 sigarette per dag gerook. Op 50 het ek opgehou nadat ek ‘n kursus bygewoon het wat jou leer om op te hou rook. Ek kon nie glo hoe skoon en vars die lug skielik geruik het nie! Ek het meer energie gehad en besef hoeveel skade ek myself aangedoen het”, vertel hy.

Op sy oudag leef Theuns volgens die gebed van die Amerikaanse teoloog, Reinhold Niebuhr: “God grant met the serenity to accept the things I cannot change, the courage to change the things I can, and the wisdom to know the difference.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button