Bekende spysenier sterf aan Covid-19-komplikasies
Fanie Smit, die geliefde spysenier van Garnish Food Service, is Maandag, 2 Augustus aan Covid-19-komplikasies dood nadat hy vir drie en ‘n halwe weke gehospitaliseer was.
Fanie Smit, die geliefde spysenier van Garnish Food Service, is Maandag, 2 Augustus aan Covid-19-komplikasies dood nadat hy vir drie en ‘n halwe weke gehospitaliseer was.
Inwoners ken Fanie vir sy smaaklike kos en uitmuntende onthale. “Hy het dit altyd geniet om met gaste te kuier. Vir hom was dit belangrik om mense te sien lag en lekker te eet,” sê Stephan Smit, Fanie se oudste seun.
Fanie bly sedert 1993 in Potchefstroom en is sedert 2003 in die onthaalbedryf betrokke. Hy is op 6 Maart 1954 op Fraserburg in die Noord-Kaap gebore.
“Ons sal my pa onthou vir sy hardwerkendheid, sy lag uit sy maag, sy positiewe houding en uitkyk op die lewe. Hy het mense se lewens aangeraak met sy behulpsaamheid. “Hy het ander altyd bo homself gestel, of dit nou familie, vriende of vreemdelinge was,” sê Stephan.
Volgens die familie sal hulle die beste opsies oorweeg om die Garnish-naam voort te sit.
Fanie laat sy vrou Seugnet en drie seuns – Stephan, Stiaan en Egbert agter. Belangstellendes kan die Garnish Facebookblad dophou vir die aanlyn gedenkdiens wat eersdaags gehou sal word.




