Volkie onnie vier 50ste verjaarsdag met ‘n fondsinsameling
“In hierdie tye is ‘n partytjie met verjaarsdaggeskenke uit! Ek samel eerder fondse in vir die Bond van Oud-Volkies (BvOV), want daar is baie mense wat swaarkry.”
“Om jou 50ste verjaarsdag te vier is ‘n groot dag. Hierdie mylpaal wou ek op ‘n ander manier vier as my vorige verjaarsdae. “In hierdie tye is ‘n partytjie met verjaarsdaggeskenke uit! Ek samel eerder fondse in vir die Bond van Oud-Volkies (BvOV), want daar is baie mense wat swaarkry.” So sê ‘n besorgde Welma Pieters, Engelse onderwyseres by Volkies.
Min mense in hul vyftigerjare is nog so fiks dat hulle 50 km op enige manier wil aandurf, maar vir Welma was dit haar grootste begeerte om 50 km op haar verjaarsdag te draf. Ongelukkig verhoed die afgelope jaar se beserings haar om voort te gaan met 50 km op een dag, daarom het sy nou haar planne verander. Sy het ‘n program uitgewerk waar sy elke dag ‘n paar kilometer draf of stap om die 50 km tot haar verjaarsdag te kan voeg. Sondag, 1 Augustus het sy haar eerste 5km gedraf en Dinsdag, 17 Augustus (haar verjaarsdag), sal sy die laaste 5 km van altesaam 50 km voltooi. “Ek wil nie hierdie jaar geskenke met my verjaarsdag hê nie. My vriende kan my eerder borg vir elke kilometer wat ek gaan aflê,” sê die fikse juffrou wat vyf jaar gelede eers met volle erns begin oefen het om meer gesond te lewe. Nou inspireer sy almal om saam met haar te stap of te draf. Leerlinge en onderwysers het Maandag by haar aangesluit om die dag se 2 km te voltooi en nou kry sy gereeld boodskappe en foto’s van mense wat sê hulle stap of draf die 50 km saam met haar.
Belangstellendes wat graag die uiteensetting van die 50 km-program wil sien, kan gerus haar Facebookprofiel, Welma Prinsloo Pieters, besoek. Die Bond van Oud-Volkies (BvOV) is ‘n nie-winsgewende organisasie wat jaarliks fondse insamel om leerders in die skool te help wat finansiële bystand nodig het. “Ses ma’s help om fondse in te samel vir ons leerders wat swaarkry. Ons help hierdie talentvolle kinders met skoolbenodigdhede, skool- en ander klere, sporttoerusting, toer- en toernooigelde. Ons help ook waar gesinne nood het,” vertel sy.
Welma sê daar is entoesiastiese ouers in die skool wat haar projek steun. Marlette Smit is byvoorbeeld ‘n ma wat besluit het sy gaan as verkoopsdame by Lichtenburg Toyota R100 aan BvOV te skenk vir elke voertuig wat sy hierdie maand verkoop.
Enige iemand wat graag die “Vyftig-en-vrolik-fondsinsameling” wil ondersteun kan geld in die volgende rekening inbetaal: Bond van Oud Volkies; ABSA; tjekrekening 680 154 767; takkode 632 005; verwysing: Welma 50; bewys van betaling: antoinette@ffg.co.za. Vir enige navrae kontak Antoinette by antoinette@ffg.co.za. Gholfspelers moet ook Vrydag, 26 November in hulle dagboeke merk, want dan hou die skool ‘n gholfdag wat fondse vir die BvOV insamel.




