CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Aardklop nou by die Voortrekkermonument om den brode

Potchefstromers is uit die veld geslaan na Donderdag, 2 September se aankondiging op Facebook en Netwerk24 dat die Aardklop kunstefees vanjaar wel van 28 September tot 3 Oktober aangebied word, maar dat dit nou by die Voortrekkermonument sal plaasvind.

Potchefstromers is uit die veld geslaan na Donderdag, 2 September se aankondiging op Facebook en Netwerk24 dat die Aardklop kunstefees vanjaar wel van 28 September tot 3 Oktober aangebied word, maar dat dit nou by die Voortrekkermonument sal plaasvind.

“Dit was ‘n besluit wat ons op kort kennisgewing moes maak. Ons het vroeër aangekondig dat ons die fees vir die tweede agtereenvolgende jaar nie kan aanbied nie, maar ons is nou desperaat om die kunstenaars te help. 

“Hulle het sedert die Covid-19 pandemie ‘n groot terugslag beleef en sukkel reeds vir die afgelope 18 maande om brood op die tafel te sit,” sê Alexa Strachan, hoof uitvoerende bestuurder van Aardklop.

Volgens Strachan is die besluit van die direksie om Aardklop van Potchefstroom na Pretoria te skuif drie weke gelede geneem en het hulle nie lank hieraan beplan nie. Die fees kan nie meer in Potchefstroom voortgaan nie, omdat die Noordwes-Universiteit se fasiliteite, weens die pandemie, nie meer vir die fees beskikbaar is nie. “Die groot lokale waar ons produksies in Potchefstroom aangebied het soos die ouditorium, konservatorium en die Totiussaal is nou vir die publiek gesluit en nie al die skole kan hulle skoolsale beskikbaar stel nie. Die feesterrein kan ook meer bestaan nie, aangesien dit te veel mense lok,” sê sy.

Aardklop se kaartjieverkope het die afgelope jare ook gewys dat 75% van al die verkope deur inwoners van Gauteng gedoen word. Strachan sê dat hulle vroeër ‘n produksie van Frank Opperman, Donkie, in Potchefstroom moes kanselleer omdat daar nie genoeg belangstelling van die Potchefstromers was nie, terwyl die toneelstuk vol sale in Pretoria getrek het. “Dit was een van die redes waarom ons besluit het om die fees te skuif.”

Strachan praat van ‘n Aardklop wat nou ‘n “opwipfees” geword het en verwys na die vinnige manier waarop die fees gereël word. 

“Hier pop ‘n ‘show’ op en daar pop ‘n ‘show’ op. Dit word so gedoen om kunstenaars so ver as moontlik tegemoet te kom.

Die fees word hoofsaaklik by die Voortrekkermonument aangebied omdat daar klomp kleiner lokale in die gebou is waar produksies aangebied kan word. Verder sal die fasiliteite van Afrikaans Hoër Seunskool en die Atterburry teater ook gebruik word.

“My lojaliteit lê steeds in Potchefstroom. Dis die dorp waar ek grootgeword het. Ons sou die fees weer graag in Potch wil aanbied as die omstandighede anders was, maar ons weet nie wat die toekoms vir ons inhou nie,” sê Strachan. Sy voeg by dat die fees nou sukkel om borge te kry omdat maatskappye weens die swak ekonomiese klimaat hulle bemarkingsbegrotings inkort.

Die Aardklop kunstefees is vir 21 jaar, sedert 1998, in Potchefstroom aangebied en was sinoniem met die mooi studentedorp wat met elke lente besoekers uit die stad verwelkom. Die fees was ook elke jaar ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp en Potchefstromers is teleurgesteld dat hulle nou so stief behandel word.

“Ons is jammer dat die nuus vroeër gebreek het en ons nie tyd gehad het om die inwoners vroegtydig in te lig nie. Die plan was eintlik om dit amptelik Vrydag, 3 September bekend te maak,” sê Strachan.

Inwoners van Potchefstroom is egter baie teleurgesteld met die besluit om die fees na Pretoria te skuif en het hulle kommentaar baie duidelik op Facebook uitgespreek.

GP Schoeman skryf: “Die redenasies dat die meeste besoekers van Gauteng af kom, maak geen sin. Ek vermoed die meeste besoekers aan die Kruger Wildtuin kom ook van Gauteng af. Dalk net ‘n paar diere Gauteng toe vat dan hoef niemand meer die moeite te doen om wildtuin toe te gaan nie.” Anna-Marie Mentz wil ook weet waarom die Aardklop bestuur nie die fees by die Voortrekkermonument iets anders wil noem nie, omdat dit oorspronklik eie aan Potchefstroom is. 

Sufran Smalman Smith wil ook hê die naam moet verander: “Jy kan nie die KKNK (Klein Karoo Nasionale Kunstefees) in Kaapstad aanbied en dit steeds KKNK noem nie.”

Dan is daar ook mense wat glo ons Potchefstromers kan die fees self aanbied. Dirk Rudolph de Lange skryf: “Is dìe dan nie ‘n geleentheid vir Potchefstroom om sy eie, eg ‘Potch dìng’ te begin nie. Daar is soveel vindingryke mense in Potchefstroom wat dìt kan laat realiseer en laat gebeur. Jaqueline Marais skryf ook: “Miskien moet die Potchefstroom Sakekamer begin werk aan ons eie fees, gereël, gedryf en gevestig in Potch. Baie dinge begin oor, miskien kan ‘n Potch fees net die regte ding wees.” 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button