Twee engele op kortlys vir beste onderwyser van die jaar
Hanneke Wolmarans en Rita Clarke het bykans 700 onderwysers landswyd uitgestof en is altwee tans in die top 20 posisie van Solidariteit se Onderwyser van die Jaar 2021 kompetisie.
Vra maar vir enige leerder in die laer- of hoërskool wie hul gunsteling onderwyser is en hulle sal instinktief vir jou die onderwysers uitwys wat tot die onderwys geroepe is.
Dié onderwysers deel gewoonlik dieselfde karaktereienskappe – hulle is warm, toeganklik en passievol oor hulle vakgebied. Hulle is ook deernisvol en altyd bereid om die ekstra myl vir hulle leerders te loop.
Vanjaar is twee sulke onderwysers in Potchefstroom vir Solidariteit se landswye kompetisie, Onderwyser van die Jaar 2021, in die hoërskool kategorie gekies. Hanneke Wolmarans van Volkies en Rita Clarke van Hoërskool Die Wilge is altwee tans in die top 20 posisie naday hulle bykans 700 onderwysers landswyd uitgestof het. Solidariteit loods hierdie kompetisie jaarliks. Die publiek nomineer onderwysers wat inspireer en daarna word stemme vir elke kandidaat gewerf.
Hanneke Wolmarans is Volkies se gunsteling. Sy was vir die afgelope 43 jaar die graad-10 tot -12 leerlinge se lewenswetenskap (biologie) onderwyser. Hoewel sy vanjaar amptelik uit die onderwys tree, sal haar nalatenskap vir ewig in haar protégé’s bly voortleef. “Onderwys is my lewe. As ons nie moes afgetree het op 65 nie, sou ek tot 85 wou skoolhou” sê Hanneke wat van kleins af vir haar hond begin skoolhou het.
Vir haar is onderwys baie bevredigend en is haar hoogtepunt daardie vonkelende oë van leerlinge wanneer hulle iets snap. Diegene wat jare gelede by haar glas gedraf het, onthou haar vandag nog as die saggeaarde juffrou met die goeie sin vir humor wat passievol oor haar vakgebied is. Haar nominasie as onderwyser van die jaar is vir haar ‘n ligpunt. Sy wy haar tans voltyds toe om haar man, Corrie Wolmarans, te help versorg terwyl hy besig is om van twee ernstige operasies te herstel.
Rita Clarke, adjunkhoof en koshuismoeder van Die Wilge hoërskool, is weer dié leerlinge se liefling. Die Wilge is ‘n dubbelmedium skool vir leerlinge wat spesiale onderwysbehoeftes het. Hoewel Rita ‘n bestuursposisie beklee, hou sy steeds skool en gee sy lewensoriëntering vir die seniors en rig sport af. Sy het baie empatie met haar leerlinge wat uit moeilike sosio-ekonomiese toestande kom. “Ons het kinders hier wat alleen in ‘n ‘shack’ gebly het en niemand gehad het wat na hulle omsien nie. Baie van hierdie kinders se gedragsafwykings kan toegeskryf word aan die feit dat hulle bloot honger is. Hulle kognitiewe ontwikkeling is vertraag as gevolg van wanvoeding”, vertel sy besorgd.
Rita is ‘n raakvatter en die moeder hen van die koshuis. Sy het ‘n geduldige oor wat graag luister en is daar met ‘n trooswoord wanneer dit nodig is. Sy glo dat geduld een van die belangrikste karaktereienskappe van ‘n goeie onderwyser moet wees en glo dat jy almal met liefde, aanvaarding en respek moet hanteer. Vir haar is dit ook belangrik om vir kinders tuis te bring dat hulle elkeen uniek is en dat hulle die beste moet maak van elke situasie waarin hulle hulleself bevind. “Ek glo die lewe is ‘n dans. En as jy val terwyl jy dans, moet jy dit eenvoudig deel van jou danspassies maak en voortgaan met die dans”, lag Rita.
Potchefstromers hou duim vas dat albei juffrouens onder die top 10 onderwysers sal eindig wat die gala-aand op 5 November sal bywoon. Tydens dié geleentheid word die beste onderwyser van 2021 aangewys.
Om te stem vir jou gunsteling onderwyser, besoek https://solidariteit.co.za/onderwyser-van-die-jaar-stem/ en stem vir Rita Clarke (Catharina Magrietha Clarke) of Hanneke Wolmarans. Stemme sluit 1 Oktober om 17:00.




