CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Oorspoelde deurpad en ander probleme in Promosa

Nadat die Herald onlangs verslag gedoen het oor die slegte toestand van die pad tussen Promosa en Mohadin (Robertlaan) het Debbie Beukes, van die Patriotic Alliance (PA) wat in die omgewing woon, die Herald genooi om die omvang van probleme in Promosa self te aanskou.

Nadat die Herald onlangs verslag gedoen het oor die slegte toestand van die pad tussen Promosa en Mohadin (Robertlaan) het Debbie Beukes, van die Patriotic Alliance (PA) wat in die omgewing woon, die Herald genooi om die omvang van probleme in Promosa self te aanskou.

Die dam wat oorloop en in die pad spoel is ‘n jarelange probleem wat sy al verskeie kere aan die munisipaliteit gerapporteer het. “Die munisipaliteit se enigste oplossing is om ‘n laag sand oor die pad te gooi, maar dit los nie die probleem op nie. Die dam spoel oor in die pad selfs wanneer dit nie reën nie. Dit word net deur die reën vererger,” sê Debbie.

Sy vertel dat baie voetgangers die pad gebruik en dat sy in besonder bekommerd is oor die kinders wat skole toe stap. Die Potchefstroom Secondary School in Mohadin is die naaste skool in hierdie area. Hierdie deurpad word nou baie meer gebruik vandat die Promosapad onder konstruksie is.

Debbie sê Robertlaan was voorheen baie hoër as die dam en pype onder die pad deur het die water na die vleiland langsaan toe gekanaliseer.

Voetgangers loop op die kant van die dam. Foto: Venessa van der Westhuizen

Sy het die Herald op ‘n kort toer deur Promosa geneem om ander probleme uit te wys.

Dit was opmerklik dat die gate in die paaie hier baie meer as in die res van die stad is, wat strook met die J.B Marks Verbruikers en Belastingbetalersvereniging se opname wat getoon het dat Promosa en Miederpark die twee woonbuurte is waar die meeste diensleweringsprobleme voorkom.

Onwettige stortingsterreine dui ook op vullisverwydering wat nie gereeld hier plaasvind nie.

Debbie het ook gesê dat daar steeds huise is wat nog nie moderne toilette het nie.

Die munisipaliteit het huise se toilette wat voor 1980 geïnstalleer is, vervang maar sommige huise is oorgeslaan.

Nadat die Herald ‘n onderhoud met Debbie gevoer het, het sy die koerant in kennis gestel dat die munisipaliteit weer in Robertlaan sand gegooi het om die pad droog te lê. ‘n Sloot is ook gegrawe om die water weg te lei.

Die Herald het by twee geleenthede die munisipaliteit vir kommentaar oor Robertlaan genader en wou weet wat hul oplossing vir die water in die pad is, maar het met albei navrae geen terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button