CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Motormaatskappy kry hofbevel teen besigheidsforum

NTT Motors het gister (6 Oktober) ‘n hofbevel van die hooggeregshof in Mahikeng verkry wat betogers, die Tlokwe/JB Marks besigheidsforum, nou verbied om die bouperseel langs die N12 te betree. Hulle word onder meer ook verbied om voor die bouperseel wanorde aan te hits en te betoog. Dit kom nadat lede van die Tlokwe/JB Marks …

NTT Motors het gister (6 Oktober) ‘n hofbevel van die hooggeregshof in Mahikeng verkry wat betogers, die Tlokwe/JB Marks besigheidsforum, nou verbied om die bouperseel langs die N12 te betree. Hulle word onder meer ook verbied om voor die bouperseel wanorde aan te hits en te betoog.

Dit kom nadat lede van die Tlokwe/JB Marks besigheidsforum Dinsdagoggend (5 Oktober) motorbande voor die ingang van die bouperseel gebrand en die bestuurder van die bouprojek, Alex Mynhardt, met ‘n klippe bestook het. Hulle voer aan dat die boukontrakteurs, Mike Buyskes Konstruksie, nie van dienste of arbeiders in Potchefstroom gebruik maak om die groot vertoonlokale van NTT Motors daar op te rig nie.

Uitgebrande motorbande by die ingang van die eiendom. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die hofbevel stipuleer dat lede van die besigheidsforum verbied word om:

  • NTT Motors se eiendom (Deel 883 en 1529 van die plaas Vyfhoek 528.I.Q) te betree.
  • voor die eiendom, of pad wat toegang tot die eindom verleen saam te drom, wanorde aan te hits, bande of enige ander materiaal te verbrand en te betoog.
  • te keer dat werknemers, kontrakteurs, verskaffers en besoekers die eindom betree
  • enige van die maatskappy se werknemers, kontrakteurs verskaffers en besoekers te dreig, intimideer en teister.
  • met die kontruksiewerk op die eiendom in te meng.

Lucky Pule, die woordvoerder van die betogers het Dinsdag aan die Herald gesê dat die kontruksiemaatskappy aan hulle werk beloof het. Hy sê dat die kontrakteurs van die besigheidsforum die nodige dokumente vir werkaansoeke aan die konstruksiemaatskappy oorhandig het, maar dat niks daarvan gekom het nie. Pule voer ook aan dat konstruksiewerkers van onder meer Mozambiek en Zimbabwe gebruik word om aan die bouprojek te werk, maar dat Potchefstromers nie gebruik word nie.

Alex Mynhardt, die bestuurder van die bouprojek, sê dit is onwaar dat hulle nie van plaaslike arbeid en dienste gebruik maak nie. Hy het bevestig dat al hul boumateriaal plaaslik verkry is. “Ons het die staal, bakstene en sand in Potchefstroom aangekoop en het plaaslike kontrakteurs vir die grondwerke gebruik. Ons gebruik ook ‘n bouer, pleisteraar en ‘n kundige wat teëls lê wat almal van Potchefstroom is.”

Die Herald het ook ‘n regskenner, Hans-Jurie Moolman, in verband met die diensvoorwaardes genader wat sê dit is die werkgewer se reg en vrye keuse om mense na hul eie goeddunke aan te stel. “Niemand het die reg om op ‘n onwettige wyse op ‘n aanstelling aan te dring nie. As klaers ontevrede is dat kontrakte nie aan hulle toegewys word nie, kan hulle hul tot die howe wend, maar intimidasie en aanranding is onwettig. Protes is nie ‘n meganisme om misdaad te pleeg nie”, het Moolman gesê.

Die publiek wou weet waarom die polisie nie teenoor die betogers optree nie, daarom het die Herald Dinsdag die woordvoerder van die polisie, Kapt. Sam Tselanyane, vir kommentaar genader. ‘n Ander woordvoerder van die polisie, brig. Mokgwabone Sabata, het daarna gesê die polisie ondersoek tans die saak en sal later terugvoer gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button