Trustfonds prokureur getuig in JB Marks trio saak
Coetzee het Dinsdag getuig dat hy sy mandaat met die bestuur van die trustrekening beëindig het nadat die Valke die rekening begin ondersoek het.
Die verhoor waarin die vorige uitvoerende burgemeester en twee senior bestuurders van die JB Marks munisipaliteit vir diefstal en bedrog aangekla word, het Dinsdag, 12 Oktober in die Ventersdorpse streekhof begin.
Die plaaslike prokureur, Willem Coetzee, wie se prokureursfirma die trustfondsrekening van die munisipaliteit bestuur het, was die eerste getuie in die saak wat die staat teen Kgotso Khumalo, Mohau Shuping en Cyril Henry aanhangig gemaak het.
Coetzee het Dinsdag getuig dat hy sy mandaat met die bestuur van die trustrekening beëindig het nadat die Valke die rekening begin ondersoek het. Hy wou nie langer die “betaalmeester” van die munisipaliteit wees nadat hy deur die ondersoekbeampte ingelig is dat daar moontlik ongerymdhede rondom die uitbetalings van die trust bestaan nie. Coetzee het verder getuig dat die ondersoek ‘n risiko vir sy reputasie ingehou het.
Coetzee het verder getuig dat hy voor die Valke-ondersoek ‘n jarelange goeie werksverhouding met die munisipaliteit gehad het en dat hy deel is van ‘n paneel prokureurs wat sake namens die munisipaliteit behartig het.

Hy het die proses verduidelik waarop hy geld namens sy kliënte ontvang het en in hul aparte rekenings van die trustfonds gedeponeer het, waaruit hy dan betalings aan die diensverskaffers van sy kliënte maak. Hy het gesê dat dit vir hom nie moontlik is om in ‘n raadgewende hoedanigheid sy kliënte se geldsake te bestuur nie en voer bloot sy kliënte se instruksies uit. Hy bestuur so sy kliënte se fondse noukeurig deur rekord te hou van elke transaksie. Volgens hom is die trustfondsrekening geskep om juis beter beheer oor fondse te hê wat die universiteit aan die munisipaliteit verskuldig was.
Coetzee het gesê dat die munisipaliteit met die bou van die tartanbaan R12 miljoen spandeer het en dat die universiteit ooreengekom het om later R6 miljoen in paaiemente weer aan die munisipaliteit terug te betaal. Hierdie fondse sou oordeelkundig spandeer word om die atletiekstadion verder op te gradeer. ‘n Bestuurskomitee, bestaande uit personeel van die NWU en JB Marks munisipaliteit is later gestig om beheer oor die geld uit te oefen.
Coetzee het verslag gedoen oor die eerste aanklag teen Khumalo waarin hy (Coetzee) aanvanklik telefonies van Khumalo instruksies ontvang het om R100 000 in die rekening van twee nie-regeringsorganisasies te maak. Coetzee het egter later weer instruksies van Khumalo ontvang asook die rekeningbesonderhede van slegs een begunstigde waarin hy die R100 000 moes deponeer. Khumalo het verduidelik dat dit slegs ‘n lening is wat later teen einde Oktober weer in die trustfonds terugbetaal sou word, maar volgens Coetzee is die R100 000 tot op hede nie terugbetaal nie.

Kgotso Khumalo, die eertydse burgemeester, Mohau Shuping, opsigter van die sport en rekreasie fasiliteite en Cyril Henry, uitgetrede direkteur van munisipale dienste en plaaslike ekonomiese ontwikkeling, staan altesaam op nege aanklagte van diefstal en bedrog ter waarde van R577 218 tereg. Dié geld het hulle na bewering in 2018 en 2019 uit ‘n munisipale trustfonds gesteel.
Agt van die nege aanklagte ter waarde van R477 218 is teen Shuping aanhangig gemaak. Sommige van dié aanklagte deel Shuping met Khumalo en Henry. Khumalo, die voormalige uitvoerende burgemeester, staar twee diefstalaanklagte ter waarde van R164 218 in die gesig, terwyl drie aanklagte van bedrog ter waarde van R280 000 teen Henry aanhangig gemaak is.
Shuping en Henry word volgens die klagstaat beskuldig dat hulle op 27 November 2018 en 2 Februarie 2019 twee fakture ter waarde van R35 000 elk vervals het. Dié fakture was uitgemaak vir dienste wat tydens ‘n begrafnis vir die LUR vir Landbou, Duma Ndleleni, gelewer is. Die dienste is egter nooit gelewer nie. Die derde bedrogaanklag teen Shuping en Henry was vir ‘n vals faktuur van R210 000. Dié faktuur was nie ‘n ware weerspieëling van die werklike bedrag wat verskuldig was nie. Volgens Chris Hattingh, DA raadslid van die munisipaliteit, het dié maatskappy as tussenganger sekere dienste verskaf toe plaaslike rugbyspelers vir ‘n toer na Australië is.

Die saak teen Khumalo, Shuping en Henry spruit uit aanklagte wat die DA in 2020 by die Valke ingedien het. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder vir die Valke in die Noordwes, het gesê dat die geld in die trustfonds nooit aan die ouditeur-generaal verklaar is nie.
Die saak sou Woensdag voortgaan, maar Kgotso Khumalo het nie vir die verhoor opgedaag nie omdat hy na bewering siek is. Die saak is uitgestel na 10, 11 en 12 November wanneer die beskuldigdes weer in die hof moet verskyn.




