CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Geen harmonie met onwettige inwoners by Harmonie

Inwoners van Harmonie woonstelle op die Bult is moedeloos met mede-huurders wat nie die regulasies van die kompleks gehoorsaam nie.

Inwoners van Harmonie woonstelle op die Bult is moedeloos met mede-huurders wat nie die regulasies van die kompleks gehoorsaam nie. Dié woonstelkompleks behoort aan die J.B. Marks munisipaliteit en verskaf lae-inkomste behuising aan bejaardes. Ander woonstelkomplekse in Potchefstroom soortgelyk aan Harmonie is Skemering, Immergroen en Uitkoms woonstelle.

Die ongelukkige inwoners van Harmonie sê dat die Tegniese Dienste afdeling van die munisipaliteit aan die begin van September weer aan al die inwoners dokumente oorhandig het wat die reëls en regulasies vir die huurders uiteensit, maar dat hulle nie die reëls afdwing nie.

Een van die regulasies stipuleer dat die verhuurde woonstel slegs vir woondoeleindes deur die huurder (en sy/haar wettige eggenoot) gebruik mag word en vir geen ander doel van watter aard ook al gebruik mag word nie. Dit mag slegs deur die huurder bewoon word en dit is ‘n voorwaarde van ooreenkoms dat geen ander persoon gedurende die termyn van hierdie ooreenkoms daarin mag woon of gehuisves mag word nie.

Die ontevrede inwoners sê nou dat ten minste drie huurders waarvan hulle weet, familielede op ‘n permanente basis huisves. “In een van die woonstelle is daar drie familielede wat by die huurders bly. Hulle bedryf ook ‘n besigheid waar hulle meubels herstel en veroorsaak baie steurnis met die voortdurende gekap, gesaag en geboor deur die dag”, sê die mede-inwoners wat nie hulle naam genoem wil hê nie. Hulle vertel dat hulle al maande terug self gestap het van die Bult tot by die kantore van die munisipaliteit in Wolmaransstraat en persoonlik klagtes hieroor gelê het, maar dat niks daaraan gedoen word nie. “Wanneer ek vir mnr. Lamprecht van Tegniese Dienste kontak, maak hy net beloftes om hier uit te kom”, sê die ongelukkige persoon.

Na bewering is daar in een van die ander woonstelle ook twee kleinkinders wat permanent by hulle grootouers bly en dan is daar in ‘n ander woonstel ‘n werkende jong man wat permanent by sy ma bly.

Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder, het bevestig dat hulle in September die lys van reëls weer aan al die huurders gestuur het en dat hulle die ontvangs daarvan erken het. Sy het ook gesê dat die munisipaliteit kennis dra van die huurders wat nie die reëls gehoorsaam nie en dat hulle reeds die betrokke huurders daaroor aangespreek het. Hulle wil graag die probleme op ‘n vriendskaplike manier oplos en sal die betrokke partye ook persoonlik besoek. Tshite het haar vertroue uitgespreek dat die probleem gou opgelos sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button