Molen Kórus vier 10de verjaarsdag met kooruitvoering
Molen Kórus het gisteraand (19 Oktober) hul 10de bestaansjaar met ‘n kooruitvoering by die NWU konservatorium gevier.

Molen Kórus het gisteraand (19 Oktober) hul 10de bestaansjaar met ‘n kooruitvoering by die NWU konservatorium gevier. Dit was hul eerste uitvoering sedert 2019 toe Covid-19-inperkings kore beperk het om te oefen en verhinder het om optredes te hou.
Die koor se planne vir ‘n oorsese toer in November 2020 was ook weens die ontydige virus in die wiele gery.
Vir die twee koorleiers, Kobus Venter en Loretté du Toit, was dit heerlik om weer na ‘n lang periode van leë verhoë en stil konsertsale weer spesiale koorwerke met hul lojale gehoor in Potchefstroom te deel al moes hul dit almal met maskers doen. Die koor het die gehoor in vervoering gehad met hulle weergawe van Pieter van der Westhuizen se vier motette, verwerkings van Afrikaanse volksliedjies en Pieter de Bruin se verwerking van “You are the reason”.

Molen Kórus is ‘n kamerkoor wat in 2011 gestig is onder die leiding van Du Toit en Venter. Die naam van die koor is afgelei van die beroemde straat in die hartjie van Potchefstroom waar die koor weekliks oefen en bestaan hoofsaaklik uit nagraadse studente en lede van die gemeenskap rondom Potchefstroom wat almal ‘n liefde vir koormusiek het. Hul streef na musikale uitnemendheid en lede word gekies om voortdurend ‘n hoë standaard van koorsang te handhaaf.
Die koor is in 2015 as wenners in die kategorie vir kamerkore asook die algehele wenner van die ATKV-Internasionale Animato koorkompetisie aangewys. Gedurende die Wêreldkoorspele in 2018 word die koor as die wenner van drie kategorieë aangewys.




