‘n Verlore dragtige donkie is die afgelope Sondagaand, 17 Oktober, gered uit Ikageng, danksy die spoedige reaksie van Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS).

Hierdie merrie kon toe ook geboorte gee aan ‘n vulletjie die volgende oggend (Maandag, 18 Oktober) danksy die hulp van ‘n privaat wildsveerats (Dr. Francois Gerber), PAWS se veerartse en personeel wat ‘n noodkeiser voltooi het.

Daar was ‘n kans dat die vulletjie nie sou oorleef nie, maar beide ma en haar kleinding kon toe nogsteeds asemhaal.

Hierdie merrie en klein vulletjie wat “Miracle” gedoop is, is tans besig om aan te sterk, met die ma wat nog af en toe terugslae beleef na die moeilike geboorte. Volgens PAWS se bestuurder, Herman van der Sluis, sukkel die ma donkie nog met maagsere en is nog op ‘n drup.

“Tans lê sy nog maar ons is seker dat sy weer sal opstaan en verbeter. Die vulletjie benodig ook die ma se melk, so ons gaan ook die ma donkie uitmelk om die vulletjie te voed. Omdat die ma seer het en moeg is kan sy nie tans self melk verskaf aan die vulletjie nie,” verduidelik Van der Sluis.
Dit is ‘n wonderwerk dat die ma nog lewe aangesien sy ongeveer drie dae in Ikageng gelê het en in kraam was, voordat PAWS ‘n oproep ontvang het om te kom ondersoek instel verlede Sondagaand.
“Dit was ‘n groot spanpoging om die donkie op te laai en deur die hele proses van die noodkeiser te gaan. Ons is bly da tons die donkie kon help. Ons wil alles in ons vermoë doen om die donkie te red. Ons glo nie daaraan om diere uit te sit nie,” vertel hy.
PAWS het wel al die hulp nodig om vir die mediese koste, voer en ander benodigthede te voorsien en seker te maak dat die donkie mooi aansterk en dan later aangeneem kan word.
Donasies kan gemaak word aan:
P.A.W.S.
Nedbank
Rekeningnommer: 1156650747




