NewsNews

Laerskool Mooirivier se nuwe hoof hou skip op koers

“Ek voel dat die Here my in verskillende posisies geplaas het sodat ek nou die regte ervaring het om my taak tot die beste van my vermoë te kan doen."

Op ‘n stormagtige Covid-19 see het Laerskool Mooirivier se nuwe skoolhoof, mnr. Jakkie van Vuuren, Tokkies se boot mooi op koers gehou, met die anker van geloof wat as fondasie dien.

Van Vuuren moes in 2020 as waarnemende hoof vinnig strategieë op die tafel sit in een van die uitdagendste jare in onderwysgeskiedenis toe kinders nie klasse kon bywoon nie en van die huis af moes skoolgaan. Hy het duidelik daardie vuurdoop geslaag toe hy op 1 Mei vanjaar permanent as nuwe hoof van Laerskool Mooirivier aangestel is.

Mnr. Jakkie van Vuuren is vir sowat ‘n halwe jaar reeds permanent as hoof by Laerskool Mooirivier aangestel, nadat hy in 2020 die waarnemende hoof van die skool was. Foto’s: Wouter Pienaar

“Ek glo vas dat my geloof my en die skool verlede jaar gedra het. Ek het baie planne gehad en Covid-19 het dinge heeltemal omgeswaai. Dit is in daardie tyd dat die Here my krag gegee het om vreesloos op te tree. Dit is in die moeilike tye waar ek my antwoorde gekry het,” noem hy.

Van Vuuren het in 2017 by Mooirivier as adjunkhoof begin werk onder die voormalige legendariese skoolhoof, Ruben Jacobs, wat vir 27 jaar daar hoof was. Dit is yslike skoene om te vul, maar Van Vuuren, wat 21 jaar se onderwyservaring agter sy blad het, weet dat hy nou die geleentheid het om as hoof ‘n verskil in kinders se lewens te maak.

“Elke kind wat by die hek instap se hart moet heel en gelukkig wees as hy of sy daar uitstap. Dit is vir my ‘n groot eer om in hierdie posisie te wees en leiding te kan neem,” vertel hy. Van Vuuren se passie vir die onderwys kom al sedert hy as leerling van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, ‘n nagraadse onderwysbeurs ontvang het.

Mnr. Jakkie van Vuuren spreek die leerlinge en personeel toe tydens ‘n saalopening

“Ek is deur mnr. Kallie Rautenbach geïdentifiseer, waartydens daar toe ‘n onderhoud met my op skool gevoer is en ek toe die beurs gekry het. My eerste pos was in 2000 by Laerskool Helderkruin in Roodepoort waar ek so vier jaar was, daarna was ek by Laerskool Florida vir ‘n jaar en ‘n half voordat ek ‘n geleentheid in Hartebeespoort gekry het,” vertel Van Vuuren.

Hy het die rolle van departementshoof in opvoedkundige leiding sowel as adjunkhoof (sport en kultuur) met vlieënde vaandels bestuur en sy tyd by Laerskool Generaal Hendrik Schoeman ontsettend geniet.

“Ek voel dat die Here my in verskillende posisies geplaas het sodat ek nou die regte ervaring het om my taak tot die beste van my vermoë te kan doen. Ek het geleenthede gekry en dit gebruik. Ek glo ‘n mens kry 24 uur per dag om te woeker met dit wat tot jou beskikking is,” noem hy.

Van Vuuren het vir ‘n lang tydperk Cravenweek o.13 rugby afgerig en dit was ook iets wat hy ongelooflik baie geniet het. Buiten sport het hy ook ‘n groot liefde vir kultuur en noem dat al is akademie die groot fokuspunt op skool, sport en kultuur ‘n baie belangrike rol in die algehele prentjie speel.

“Dit is so belangrik dat kinders ‘n goeie balans het en die geleentheid het om aan buitemuurse aktiwiteite deel te neem. Dit is ‘n bewys dat dit ‘n groot positiewe rol op akademiese gebied het. “Ek kon sien hoe die gebrek aan kultuur en sport die kinders verlede jaar beïnvloed het,” noem Van Vuuren.

Van Vuuren se ondersteuningsraamwerk kom uit sy gesin wat sy vrou, Mariaan, en drie kinders, Emile (graad 11 in Gimmies), Elri (graad 6 in Laerskool Mooirivier) en Lika (Graad 2 in Laerskool Mooirivier) insluit.

“Ek hou daarvan om in my aftyd te lees. Ek lees graag boeke oor onderwyssake sowel as sportbiografieë en Afrikaanse fiksie soos Irma Venter en Deon Meyer.”

Nog ‘n element wat Van Vuuren ingebring het as hoof is die “tema van die jaar” waar hy op een spesifieke woord fokus en die betekenis daarvan op praktiese wyses toepas.

“Vanjaar se tema is Geloof. Dit is iets wat van toepassing is op baie van ons, veral in onsekere Covid-19 tye. Met geloof weet ons dat ons kan vertrou dat Mooirivier van krag tot krag sal groei. Ek glo vas daar is altyd hoop en ‘n antwoord of oplossing op ‘n probleem.”

Op personeelgebied sal Van Vuuren graag wil sien dat professionalisme ten alle tye gehandhaaf word sodat onderwysers gerespekteer word en weer aansien in die gemeenskap het. Van Vuuren se diensbaarheid tot die skool, personeel, leerlinge en ouers kan opgesom word in sy betrokkenheid en doelgerigtheid.

“Ek is die eerste een vroegoggend by die skoolterrein en probeer om die laaste persoon te wees wat loop, sodat ek altyd weet wat by die skool gebeur.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button