Brei is 95-jarige se noodweer
Sy was só versot op brei dat sy selfs op Sondae skelm gebrei het. Maar na ‘n pakslae en ‘n waarskuwing dat sy die breinaalde dan in Jesus se oog steek, het sy haar naalde op die Sabbatdag gebêre.
Tannie Gielie Claassen (95) was maar ses jaar oud toe die gesin se huishulp haar geleer het om te brei.
Sy het die seilgaring waarmee die mieliesakke toegeryg was as wol gebruik en het sommer fietsspeke as breinaalde gebruik. Sy was só versot op brei dat sy selfs op Sondae skelm gebrei het. Maar na ‘n pakslae en ‘n waarskuwing dat sy die breinaalde dan in Jesus se oog steek, het sy haar naalde op die Sabbatdag gebêre. Tot vandag toe. Sy brei vir byna 90 jaar, behalwe op Sondae.
‘n Mens staan verstom oor die netjiese fyn stekies in helder kleure wat vorm aanneem in bont hanger-oortreksels, komberse en truie. Sy gesels graag oor die ou dae toe sy op die plaas, Buffelsvlei in die Ventersdorp-distrik grootgeword het. As vierde dogter uit ‘n gesin van sewe (sy het net een broer gehad) het hulle gesin aanvanklik gedink sy sou die seun wees waarna hulle so uitgesien het. Groot was hulle verbasing toe sy op 26 Februarie 1926 as die vierde dogter, die eerste lig gesien het. Haar name was klaar gekies as Gideon Jacobus Lourens van Eck en toe berus hulle maar by Gielie.

Tannie Gielie het die plaaslewe baie geniet en was hartseer toe sy op 14-jarige ouderdom saam met die res van die gesin dorp (Potchefstroom) toe moes trek. “My pa was besig om oud te word en my ma het haar sig weens suikersiekte verloor. Dit was belangrik dat sy naby die dokters moes wees.” Behalwe dat tannie Gielie doof is in haar een oor, is sy nog net so avontuurlustig soos altyd. Sy is versot op motorfietse en het op 92-jarige ouderdom ‘n motorfietsrit Boskop toe en terug onderneem toe iemand haar in ‘n symotor (side car) gelaai het. “Dit was wonderlik! Ek het net nie daarvan gehou toe ek die ‘helmet’ moes opsit nie. My hare was so mooi gedoen en dit het als platgedruk,” lag sy.
Ander avontuur hoogtepunte was toe sy van 2017-2019 jaarliks ‘n rit in die Shosholoza-trein na familie en vriende in Tulbagh onderneem het. Haar se geheim vir ‘n lang lewe is dat sy aan die gang bly. Wanneer sy Sondae nie kan brei nie, knip sy graag mooi prentjies uit tydskrifte en plak dit in ‘n plakboek.
“My ma se hele lewe draai om haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders,” sê Mariaan, tannie Gielie se dogter by wie sy bly. Sy en Dolf (64) is die tannie se enigste twee kinders. Tannie Gielie het hulle alleen grootgemaak nadat sy en haar man vroeg geskei is. Sy het onder meer by ‘n klerefabriek, Potchefstroom Hospitaal en later die kombuis by Witrand se psigiatriese hospitaal gewerk om die pot aan die kook te hou. Vandag spog sy met drie kleinkinders en agt agterkleinkinders.
Sy dink hardop toe sy sê: “Dit was ‘n lekker lewe.” Sy glo vas dat brei haar deur die moeilike tye gehelp het. “Wanneer ek brei, vergeet ek alles om my. Dan fokus ek net op knit one, purl one.”




