Afrikaners se behoefte om Geloftedag te vier neem toe
Vanjaar is dit die 183ste keer sedert die Gelofte op 16 Desember 1838 afgelê is en daar is Afrikaners wat steeds Geloftedag wil vier – hetsy met ‘n gedenkdiens in ‘n kerk of ‘n uitstappie wat meer seremonieël van aard is.
Vanjaar is dit die 183ste keer sedertdie Gelofte op 16 Desember 1838 afgelê is. Met Geloftefeeste en kerkdienste wat in al nege provinsies aangebied word, blyk dit dat Afrikaners ‘n groeiende behoefte het aan die vier van Geloftedag.
Sedert 2011 reik Ditsem Blits ‘n uitgebreide kalender uit waar hulle aandui waar Geloftefeeste oral aangebied word. Dié kalender dui vanjaar aan dat daar ‘n rekordgetal van 182 feeste in al nege provinsies en in die buiteland aangebied word. Afrikaners in die buiteland vier Geloftedag in Australië (Brisbane en Perth), Namibië (Stampriet en Windhoek), Nieu-Zeeland (Christchurch en Tauranga) en die VSA (South Carolina en Irivne, Californië).
Volgens Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, is Geloftedag vir die Afrikaners waarskynlik die eerste belangrikste historiese dag wat voor Stigtingsdag of selfs Krugerdag herdenk is. “Vir die Afrikaners is dit ‘n dag en tradisie wat oor bykans twee eeue gevorm is. “Ons leer toekomslesse daaruit, maar vind ook bevestiging van ons identiteit, plek en inspirasie uit verhale van ons verlede”, het Langer aan Maroelamedia gesê.
Vir hom bevestig die dag dat ons anker en afhanklikheid in die Here lê. “Dit is in hierdie konteks waarin die steeds groeiende nuwe Geloftekomitees en ondersteuning van Geloftedag verstaan moet word”, sê Langner.
In Potchefstroom word ‘n Geloftediens op Donderdag, 16 Desember om 9:00 in die NG Kerk Miederpark aangebied. Ds. Sarel Cilliers preek uit Jeremia 4 en die tema is “Kom ons ploeg ‘n nuwe land oop”. Volgens ds. Cilliers is dit tyd dat Christene hulle opnuut toewy aan die Here. “Die kerk moet opstaan en moet ‘n verskil begin maak”, sê hy. Ds. Cilliers is dit eens dat versoening vir Christene baie belangrik moet wees, maar dat Christene meer vir die wêreld moet begin doen.
By Potchefstroom word daar twee Geloftefeeste aangebied. Die een is die Roepersfontein Geloftefees by Hoogekraal Rivieroewer. Verrigtinge begin om 8:30 en sluit ‘n vlaghysing en ‘n Geloftediens deur ds. Danie Malan in. ‘n Gratis middagete word na al die verrigtinge aangebied. Vir meer besonderhede kontak Dries Burger by 083 627 1177 of e-pos kubekonstruksie@gmail.com.
Die tweede Geloftefees is die Rooipoort Geloftefees by die Rooipoort Geloftefeesterrein tussen Potchefstroom en Ventersdorp. Hulle verrigtinge begin om 9:00 met die lees van die Gelofte en ‘n Geloftediens wat ds. Hennie Aucamp aanbied. Daarna volg ‘n feesrede en ‘n ete. Feesgangers moet hulle eie eetgerei saambring. Belangstellendes wat hierdie fees wil bywoon kan Alet Fourie kontak by 076 979 8310 of e-pos by anfourie@truenw.co.za.



