Die LyriMus Sessions se 2021 Extravaganza was die perfekte manier vir hierdie musiekkonsert reeks om op ‘n hoogtepunt vanjaar af te sluit.
Sedert hierdie LyriMus Sessions huiskonserte in September die lig gesien het is daar nou al ses konserte vanjaar wat groot indruk gemaak het.
Hierdie sesde en finale vertoning vir die jaar het ‘n spesiale Kerstema gehad waar musikante wat voorheen opgetree het, kragte saamgespan het met solostukke, duette, en spesiale groepsvertoning op ‘n onvergeetlike aand.
Die kunstenaars wat opgetree het is Braam Coetzer, Jananda Coetzer, Sampie Claassen, Piet Terblanche, Jordi Terblanche, Chrisna Pienaar, Hanke de Kock en Heinrich Henning.
Foto’s: Wouter Pienaar
Elke kunstenaar kon twee solo liedjies opvoer en ook ‘n duet inwerk. Jordi Terblanche het ook een van haar eie gedigte voorgedra.
As ‘n groep het die musikante unieke verwerkings opgevoer van “Amazing Grace”, “You Raise Me Up,” “Hallelujah” en “Stille Nag” wat luide applous ontvang het. Al die musikante het op ‘n eie manier hulle stempel op die aand afgedruk en bewys dat hulle veelsydig genoeg is om verskeie genres aan te pak.
Daar is geen twyfel dat daar in Potch tans min geleentheid vir musikante is om hulle talente uit te druk, maar LyriMus maak dit moontlik met ‘n platform waar musiek in sy natuurlike vorm gelewer en geniet kan word.
Daar word einde Januarie weer ‘n konsert beplan en belangstellendes kan vir Braam Coetzer by 082 570 4838 kontak vir meer inligting.
























