Local newsNewsNews

VIDEO: Suide van stad in riool gedompel

Inwoners van Miederpark is raadop nadat ‘n rioolkrisis weer na die afgelope twee weke se reënbuie kop uitgesteek het.

 

Inwoners van Miederpark is raadop nadat ‘n rioolkrisis weer na die afgelope twee weke se reënbuie kop uitgesteek het.
Dit was veral Sondagmiddag, 2 Januarie se storm met meer as 90 mm se reën wat groot probleme vir inwoners in Louwstraat, Kockstraat, Kameeldoringstraat, sowel as Mimosalaan veroorsaak het.
Dit was weens ‘n blokkasie in die hooflyn van die rioolstelsel in hierdie area.
DA-raadslid vir Wyk 4, Johan Zerwick, noem dat dit skrikwekkend is hoeveel riool in inwoners se erwe lê.
Hy het saam met Adélle Jerling, ‘n gemeenskapsverteenwoordiger vir Wyk 2, verlede week huise in die area besoek. Volgens hom is die grootste krisis die gebrek aan hoëdruk spuittoerusting om die rioollyne oop te spuit.
“As daar bietjie van ‘n blokkasie is dan verstop dit vinnig. Die rioolplaas is ook oor sy kapasiteit en net ‘n bewys dat die infrastruktuur en rioolstelsel nie nog ekstra ontwikkeling sal kan hanteer nie,” sê hy.
Zerwick het Dinsdagoggend, 4 Januarie inwoners se huise besoek en vertel dat die stank van riool in die lug gehang het en dat water in sommige erwe sowat 30 sentimeter hoog is.
Hy is wel positief dat die nuwe uitvoerende burgemeester van die J.B. Marks munisipaliteit, rdl. Gaba Ka Qhele, werk sal maak van die probleem en noem dat daar reeds planne is om die probleem spoedig aan te spreek.
Jerling het ook benadruk dat die ongewone hoë reënval onteenseglik ‘n invloed het op die ineenstorting van dienste, maar dat inwoners die nuwe raad die geleentheid moet gee om daaraan te begin werk om diensleweringsprobleme aan te spreek.
Inwoners het hulle misnoeë met die situasie in hul erwe gedeel, wat beide ‘n menseregte- en gesondheidskwessie is.
Suryna van Huyssteen wat in Louwstraat woon, noem dat haar erf vol riool dryf, wat verskeie gesondheidsgevare inhou.
“Ons het nog nie eers die reuk van begin Desember se reën weg nie, en nou is daar weer ‘n probleem.
“Einde November verlede jaar het ons probleme begin.
“Ek het loodgieters van twee maatskappye uitgekry toe ons erf vol water was. Die loodgieters het vir ons gesê dat ons lyn oop is, maar dat die munisipale lyn verstop en vol is.
“Dit veroorsaak dan dat ons gullies nie dreineer nie,” noem Van Huyssteen.
Sy vertel ook dat sy met die nuwe uitvoerende burgemeester, Gaba Ka Qhele, kontak gemaak het en dat hy hierdie week self na die rioolsituasie kom kyk het.
“Die burgemeester het genoem dat hy die verskriklike stank kan ruik en dat hy daaraan sal werk,” noem sy.
“Dit is nie net ‘n menseregtekwessie nie, maar omgewingsbesoedeling ook,” noem sy raadop.
Ben Kok, wat in Mimosalaan bly, noem dat hierdie kwessie al vir jare aanhou en dat sy erf vol riool is.
“Daar is ‘n blokkasie op die hooflyn en nou loop die riool steeds volstoom in ons erf in. Dit is ‘n groot gesondheidrisiko,” beaam hy.
Jo-Adri Ashwell in Klerkstraat noem ook dat sy soortgelyke probleme ervaar na die baie reën.
“Water het hierdie erf in Klerkstraat in ‘n klein ‘meer’ verander.
“Dit is seker so vyf of ses jaar gelede wat my loodgieter die munisipaliteit letterlik by die mangat moes ontmoet het om vir hulle te wys die probleem lê nie in my of die buurman se erf nie (nadat die loodgieters alles in my erf al oopgegrawe het).
“Die laaste dae se reën het weer die doodslag toegedien,” noem sy oor die stank in haar erf.
* Die Herald het navrae aan die munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd was daar nog nie terugvoer nie. Sodra daar amptelike terugvoer ontvang is, sal dit aanlyn bygevoeg word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button