Inwoners in die Suiddorp het die afgelope paar jaar op eie onkoste probeer om die rioolkrisis op te los, maar sonder dringende opgradering van die rioolsisteem, sal dit ‘n onbegonne taak wees.
Die reën het sake vir die inwoners, wat nie meer met die stank en onmenslike toestande kan saamleef nie, net vererger. Reënwater loop in die rioolsisteem in en die huidige infrastruktuur kan dit nie hanteer nie.
Riool dam dan in erwe op aangesien die rioolplaas nie die volume kan hanteer nie. Daar is ook blokkasies in die rioolsisteem met boomwortels wat vloei belemmer.
Kyk die video hier:
Een van die inwoners in Kockstraat, mnr. Tom Green, het op sy eie onkoste riool uit erwe gepomp en duisende rand uit sy eie sak betaal. Hy is sonder twyfel keelvol vir die onmenslike toestande waarin hy en sy bure moet leef.
“Die infrastruktuur word nie onderhou nie. Daar is geen ander verskoning nie. Die geld waarvoor goed begroot is, het verdwyn. Op hierdie stadium verlaat ek die stad en sal kyk of ek ‘n maand of twee later sal terugkom. Dit is onmenslik en ondraaglik. Green stel voor dat inwoners die probleem eerder self moet uitsorteer, aangesien die munisipaliteit versuim om bystand te bied.

“Ek bly al 20 jaar in Potchefstroom en ek het nog nie gesien dat daar gereeld onderhoud gedoen word nie. Die lyne is geblok. Ek stel voor dat inwoners saamstaan, vriende maak en die probleem self uitsorteer, want die munisipaliteit gaan nie help nie.
“Ek het twee jaar gelede R65 000 betaal om ‘n muur te bou sodat riool nie in my swembad inloop nie. Ek moes my pompe vervang en my swembad heeltemal laat oordoen,” noem Green. Volgens hom veroorsaak al die infrastruktuurprobleme ook ‘n sneeubaleffek met die dat huise se waarde verminder. “Wie gaan ‘n huis koop as hulle van die probleme weet?
“Jou huis is niks werd en jy behoort nie belasting daarop te betaal nie. Alles gaan oor geld. Ek dink ‘n ou moet ‘n manier kry om die geld terug te hou en vir die munisipaliteit rekeninge stuur sodat daar eers berekeninge gedoen word oor wie wat skuld.
“Dit is belangrik om seker te maak dat die probleem oor ‘n jaar of twee opgelos word,” meen Green.
Nog ‘n inwoner van Kockstraat, mnr. Herman Coetzer, sit ook met die ondraaglike probleem waar riool sy erf besoedel.


“Die riool veroorsaak dat ek nie my tuin kan netjies hou nie. Die gras is lank en my diere moet in die voortuin bly.
“My kind sit met dieselfde probleem langs my huis. Hulle moes by my intrek,” noem Coetzer.
Volgens Coetzer het hy al twee jaar gelede die probleem gerapporteer.
“Ek is keelvol om elke dag so te leef. Weens die riool wat oral loop, kan ek nie eers by my voëlhokke uitkom nie.
“Dit neem my ‘n paar uur om alles weg te spuit. Dit is ‘n gemors,” vertel hy verder. Coetzer het ook sy dankbaarheid teenoor DA raadslid, Johan Zerwick en die Vryheidsfront Plus se Ian de Villiers en Thys Davids uitgespreek met hulle hulp tydens die krisis.

Toe die Herald Coetzer se huis op Woensdagoggend, 19 Januarie besoek, was ‘n trok besig om riool uit te pomp.
* Die Herald het die J.B. Marks munisipaliteit om kommentaar oor die rioolprobleem gevra, maar het teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



