Potchefstroom Dorp Rugbyklub se wedstryde begin reeds op 12 Februarie met ‘n opwarmingswedstryd tuis teen Welkom Rovers. Kort daarna speel hulle in die Phillip van Rensburg uitdaagbeker (PVR beker) op 19 Februarie teen Westonaria. Al die PVR wedstryde word op Olenpark gespeel. Die manne van dorp is al ‘n ruk op dreef met oefeninge. Alhoewel hierdie naweek die proewe gaan plaasvind. “Dit sal van 15:00 – 17:00 wees. Die proewe is vir almal. Ons speel in verskeie ligas vanjaar en wil soveel as moontlik spelers by die klub betrokke kry,” het Bolla van der Merwe, die klub se voorsitter gesê. Die klubhuis sal Saterdagmiddag oop wees en daar sal ‘n springkasteel vir die kinders wees. “As mense in die dorp wil kom proewe kyk of net kom kyk hoe lyk dit en wat aangaan by die klub is hulle meer as welkom. Ons waardeer Potchefstromers se ondersteuning,” het van der Merwe gesê. Nadat die PVR beker afgehandel is sal Dorp daarop fokus om hulle Neserbeker-titel te verdedig.



