NewsNews

Potch spog met top drie matrikulante

Wat hierdie prestasie nog meer besonders maak, is dat die top drie in Noordwes almal van verskillende skole (Ferdies, Gimmies en Girls High) in Potchefstroom kom.

Drie matrikulante van Potchefstroom is as die top drie presteerders in Noordwes vir kwintiel 4 skole aangewys. Francois Pieterse van Hoërskool Ferdinand Postma is die nommer een matrikulant (klas van 2021) met ‘n gemiddeld van 95,8% en agt onderskeidings.

Michelle le Roux van Potchefstroom Gimnasium is in die tweede plek met nege onderskeidings en ‘n gemiddeld van 94.3%.

 

Marlé Siebert van Potchefstroom High School for Girls is derde met ‘n gemiddeld van 92,7%, sewe onderskeidings en ‘n gekombineerde vakprys (Wiskunde en Fisiese Wetenskap).

Al drie hierdie slimkoppe is Vrydag, 21 Januarie by die Noordwes Departement van Onderwys se 2021 matriekprysuitdelingsfunksie in Taung vir hul uitsonderlike prestasie vereer.

Wat hierdie prestasie nog meer besonders maak, is dat die top drie in Noordwes almal van verskillende skole in Potchefstroom kom. Francois, Michelle en Marlé gaan vanjaar almal hul studies aan die Noordwes-Universiteit (NWU) begin. Francois gaan rekenaar- en elektroniese ingenieurswese studeer en Michelle en Marlé albei aktuariële wetenskap.

Francois spog met 99% vir IT, 97% vir Fisiese Wetenskap, 98% vir Wiskunde en 97% vir Rekeningkunde. In van sy ander vakke het hy ook in die negentigs behaal. Hy het ook ‘n addisionele vak (Alpha Wiskunde) geneem en 90% daarin behaal.

“Ek is baie dankbaar en gelukkig oor my matriekuitslae. Ek is trots op myself vir dit wat ek kon bereik het. Die prys is ‘n beloning vir die tyd wat ingesit is – nie net deur myself nie, maar almal wat ‘n impak op my lewe gehad het,” vertel Francois.

Volgens hierdie Ferdie is sy sukses te danke aan vertroue en geloof in God sowel as die motivering van sy ouers en onderwysers regdeur sy skoolloopbaan.

Michelle le Roux noem dat sy harde werk ingesit het, uithouvermoë en ‘n goeie ondersteunende netwerk gehad het. Sy het onderskeidings in Afrikaans Huistaal, Engels Huistaal, Wiskunde (99%), Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Rekeningkunde (98%), Verbruikerstudies, Alpha Wiskunde en Lewensoriëntering.

“Natuurlik is daar geen wenresep nie, maar regtig deur die grootste genade het ek presteer. Ek het ‘n hoë mate van uithouvermoë gehad (al het ek baie terugslae beleef), in myself bly glo en God vertrou dat die jaar sal afspeel soos wat dit moet.

“My ma en broer was gelukkig ook daar om my aan te moedig,” vertel Michelle. “As ek die jaar weer kon oordoen, sou ek beslis meer klem op die balans tussen werk en ontspan plaas – ’n les wat ek saam met my in 2022 neem,” voeg sy by.

Marlé is maar een van Girls High se groot uitblinkers wat die trofee vir toppresteerder in die kombinasie Wiskunde en Wetenskap in Noordwes behaal het.

Takudzwa Mutungama van Girls High behaal ook die trofee vir toppresteerder in Geografie in Noordwes.

Girls High se Eliske Jansen van Vuuren is ook die top leerder in Drama (Dramatiese Kunste) in die Noordwes. BA Seobi se Molebogeng Mosenogi is as die toppresteerder in geskiedenis in Noordwes aangewys.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button