NewsNews

Gimmies se nuwe hoof vol ywer vir sy roeping

"Ek glo dat daar beslis ‘n spesifieke rede is hoekom ek hier is. Ek het ‘n passie vir die Afrikaanse onderwys en om ‘n verskil te maak. Gimmies het dieselfde norme en waardes en dit is iets wat ek op verder sal wil uitbou."

‘n Vriendelike glimlag en warm persoonlikheid is maar van die vele karaktereienskappe van Potchefstroom Gimnasium se nuwe hoof, mnr. Willie van der Merwe.

Hierdie 50-jarige skoolhoof borrel met passie vir onderwys en noem dat hy hierdie nuwe avontuur by Gimmies met ope arms verwelkom.

Verwelkom is dalk net die gepaste woord want Gimmies se leerders, personeel en beheerliggaam het hulle nuwe hoof behoorlik laat tuis voel toe hy sy eerste dag by die skool op Valentynsdag, Maandag, 14 Februarie begin het.

Daar was ‘n rooi tapyt, hartlike applous, pragtige sang sowel as die oorhandiging van ‘n pragtige blou Gimmie baadjie om Van der Merwe amptelik deel van die skool te maak.

“Dit was ‘n wonderlike ervaring. Ek dink alles het perfek uitgewerk dat ek op Valentynsdag begin het. Die Gimmies is baie vriendelik en het waardes waarmee ek kan vereenselwig. Dit is so lekker om te sien hoe hulle my groet en tuis laat voel,” vertel Van der Merwe wat nou vir vier dae in die hoof se stoel sit.

Van der Merwe was sedert 2006 by Hoërskool Nelspruit as departementshoof en toe in 2013 as adjunkhoof betrokke en het ‘n lang en suksesvolle pad in die Laeveld gestap. Hy het ook voorheen by Rietondale High (voorheen Hoërskool Hendrik Verwoerd) skoolgegee en by Hoërskool Garsfontein as departementshoof opgetree.

Hy noem dat hy God se pad gevolg het wat hom na Potchefstroom Gimnasium gelei het.

“Ek glo dat daar beslis ‘n spesifieke rede is hoekom ek hier is. Ek het ‘n passie vir die Afrikaanse onderwys en om ‘n verskil te maak. Gimmies het dieselfde norme en waardes en dit is iets wat ek op verder sal wil uitbou. Ek sal ook graag wil sien dat leerders meer elektroniese platforms in die klaskamers gebruik en dat dit die algehele leerervaring verbeter,” noem Van der Merwe.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/101664/video-gimmies-se-nuwe-hoof-word-met-rooi-tapyt-op-valentynsdag-verwelkom/

Lewenslange leer is ook iets waarby hy volstaan en noem dat die skool juis daardie platform moet skep vir kinders om hulle passie en drome na te streef – of dit nou akademies, kultureel of op die sportveld is. “Almal het talente en die skool moet die platform gee vir die kinders. Skool vorm ‘n algehele pakket en dit is belangrik dat daar op verskeie areas gefokus word,” meen hy.

“Die onderwyssektor is baie dinamies met baie geleenthede en uitdagings. Dit is vir my lekker om betrokke te wees. Ek het ‘n groot passie wat ek elke dag uitleef,” noem Van der Merwe wat ook vanjaar sy meestersgraad in onderwysbestuur aan die NWU gaan aanpak. In sy vrye tyd geniet hierdie nuwe skoolhoof om te jag, vis te vang en om tyd in die natuur te spandeer.

“Ek is lief om die Kruger Wildtuin te besoek en om vis te vang saam met my seun, Derek,” vertel Van der Merwe.

Van der Merwe is getroud met Zandra en het ‘n 21-jarige tweeling, Derek en Riané wat albei aan die NWU studeer. Hy sluit af deur te noem dat daar geen plaasvervanger vir kwaliteit onderrig en opvoeding is nie.

“Dit is belangrik om na elke kind se behoeftes te kyk sodat hulle kan presteer op akademiese of buitemuurse vlak. Die skool vorm kinders as ‘n geheel en Gimmies gee ’n platform om hul toekoms te bou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button