‘n Groot gat op die hoek van Thabo Mbeki-rylaan en Louis Leipoldtstraat hou ‘n veiligheidsrisiko vir motoriste op hierdie besige pad in.
Die gat is die afgelope twee weke oopgegrawe, waarna werkers dit tydelik toegespan het. Die probleem is dat hierdie gat moeilik is om te vermy wanneer aankomende verkeer in die teenoorgestelde rigting beweeg.
Dit is ook veral gevaarlik in die aand aangesien die straatligte in die Thabo Mbeki-rylaan ook nie almal werk nie. Daar was al gevalle waar motoriste binne in die gat gery het en skade aan hulle motors opgedoen het. Met die Herald se besoek aan hierdie gat Dinsdag, 15 Maart was die gat met grond toegegooi.
Die Herald het die J.B. Marks Munisipaliteit vir navrae genader en op Woensdag, 16 Maart terugvoer gekry dat die gat wel nou herstel is.





