LifestyleNews

Departementsbesluit: Oorgewig onderwysers se vet dae is getel

"Onderwysers se relatief groot salarisse en halfdagwerk veroorsaak dat hulle toegang tot baie kos het, dat hulle lui geword het en te veel tyd op hul hande het," sê navorser.

  Onderwysers wat sedert die begin van die inperking laat slap lê het met hul dieet en fiksheidsplanne, sal die gordel letterlik én figuurlik stywer moet trek.

Dié besluit kom van die Nasionale Departement van Basiese Onderwys nadat ‘n studie bevind het dat onderwysers in ses van Suid-Afrika se nege provinsies ernstig oorgewig is. Die navorsing, wat gesamentlik deur die Departement van Basiese Onderwys en die Departement van Gesondheid geloods is, is deur Prof. Omkhulu Ihlaya van Wits-universiteit gelei en word ondersteun met statistiek wat oor ‘n tydperk van 8 maande ingesamel is.

Die navorsingspan het onder andere bevind dat 31% van Gauteng se onderwysers vetsugtig (morbidly obese) is, en nog 16% is in so ‘n mate oorgewig dat hulle ook binnekort as vetsugtig geklassifiseer sal kan word as hul eetgewoontes en fiksheidsvlakke nie dringend aandag kry nie.

Prof. Ihlaya skryf die onderwysers se gewigstoename daaraan toe dat hulle sedert die begin van die inperking langer ure begin slaap het en te veel aan lekkernye en koolhidraatryke kos weglê.

“Onderwysers se relatief groot salarisse en halfdagwerk veroorsaak dat hulle toegang tot baie kos het, dat hulle lui geword het en te veel tyd op hul hande het. Baie eet uit suiwer verveeldheid,” is Ihlaya se mening. Sy navorsingbevindings, wat pas deur die Departement van Basiese Onderwys bekend gemaak is, gaan nou gebruik word om eksperimentele studies by 10 groot skole in die land te doen om te bepaal of onderwysers se gewig kan afneem en hul fiksheidsvlakke kan toeneem met ‘n dieet en oefenprogram wat deur die Onderwysdepartement gemonitor sal word.

‘n Bekende Vaaldriehoekse skool is een van dié waar die studie nou vir drie maande voortgesit gaan word. Die naam van die betrokke skool is aan Vaalweekblad bekend, maar die skoolhoof het by navraag versoek dat Vaalweekblad dit nog nie aankondig nie omdat hy sy personeel eers vandag oor die nuwe verwikkelinge sal kan inlig. Dit sal onder andere behels dat onderwysers nie meer pouses in die personeelkamer sal mag sit en koffie drink nie, maar in ‘n groep om die rugbyveld moet stap. Onderwysers met gesondheidsprobleme wat nie intensiewe oefening mag doen nie, kan met ‘n doktersbrief aansoek doen vir kwytskelding, maar sal ander hulpmiddels ontvang soos pilatusballe waarop hulle vir die drie maande in hul klaskamers sal moet sit, pleks van op normale stoele. Dit verbeter glo ‘n mens se balans en bloedsirkulasie, en verbrand terselfdertyd ‘n klompie kilojoules. Onderwysers wat deel is van die proefneming en nie reeds naweke by die skool se sportaktiwiteite betrokke is nie, sal voorts verplig word om Saterdagmiddae tussen 14:00 en 15:00 ‘n aerobiese klas by ‘n plaaslike gimnasium by te woon.

‘n Driemaande-kontrak met die gimnasium is reeds namens die Onderwysdepartement deur ‘n bekende farmaseutiese maatskappy as borg, vooruit betaal.  Indien die program suksesvol is, sal dit stelselmatig na alle skole in die land uitgerol word.

“Ek verwag heelwat weerstand,” sê die skoolhoof. “My personeel gaan nie hiervan hou nie, maar die Departementele navorsing het net bevind wat ek nog altyd geweet het: Ons onderwyskorps het lui geword. Die bietjie oefening gaan hulle net goed doen. Maar ek weet hulle gaan omgekrap wees, veral omdat hulle vir drie maande geen stysel, suiker of alkohol sal mag inneem nie. En hulle sal nie eers kan kul nie want daar gaan weekliks geweeg en bloedtoetse gedoen word om te verseker hulle hou by die reëls,” het hy ietwat bekommerd bygevoeg.

Illustrasiefoto

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523

Related Articles

Back to top button