Franco van Dijk (19) ‘n eerstejaar elektromeganiese ingenieurswese-student, het groot drome om sy doelwitte op die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus na te streef.
Op die eerste oogopslag lyk Franco, wat graag na sy studies die motorindustrie wil betree, soos enige student – vol ambisie en lewenslus. Dit is eers wanneer hy ‘n kortbroek aanhet dat ‘n mens sy prostetiese bene opmerk.

Vir Franco is sy prostese deel van wie hy is – sedert hy sy bene as ‘n agt maande oue baba verloor het.
Franco, oorspronklik van Bethal in Mpumalanga, se bene is geamputeer omdat hy onder andere sonder beenstruktuur in sy bene gebore is. Franco ken sodoende net prostetiese bene – iets wat hy oor die jare weens sy grootwordproses baie moes opgradeer en verander.

“Ek is al baie gewoond aan my prostese en ek het nog nooit ervaringe gehad waar mense my anders hanteer omdat ek prostese het nie. Die kwaliteit van die prostese verander ook gedurig. Ek moes net toe ek groei baie verstellings maak omdat my liggaam swaarder geraak het. ‘n Mens moet net nou na die komponente kyk en dit skoon hou. Die prostese hou baie lank,” noem hy.
Franco se verhaal by die NWU het al as hoërskoolleerder (Ligbron Akademie) begin toe hy in 2019 as deel van die Hoëveld Jeugkoor op ‘n toer deur die kampus gegaan het.
“Ek het geweet dat ek graag hier wou studeer. Die gees en kultuur van die NWU het my aangetrek. My visie was eers om megatronies te studeer, maar ek het dit toe verander na elektromeganies toe,” noem hierdie student wat tans in Caput Manskoshuis is.

Koshuislewe is ook iets wat Franco se oë aan verskillende moontlikhede en aktiwiteit oopgemaak het.
“Die koshuis forseer ‘n mens op ‘n goeie manier om aan verskillende aktiwiteite deel te neem. Ek het byvoorbeeld op skool nooit aan debat deelgeneem nie, maar nou geniet ek dit. Mens sien goed in ‘n nuwe lig,” vertel Franco.




