SportSport

Lhuan-dré se goue reis na wêreldrekord begin saam met Mooirivier-afrigter

“Van dag een af was dit duidelik dat dié seun met sy hele hart en siel ’n krieketspeler is. Na elke kolfsessie smeek hy dat nog balle gegooi moet word."

Die fondasie van die wêreldrekordhouer vir die hoogste individuele telling in T20-krieket het in die groen en geel van Laerskool Mooirivier begin.

Toe Lhuan-dré Pretorius verlede week 188 van 79 balle moker vir die Titans teen die Knights, was daar een man wat beslis breed kon glimlag – Lhuan-dré se laerskoolafrigter, mnr. Jackie Golden.

Hierdie gesoute afrigter kon sommer van die staanspoor af sien dat hierdie Graad 2-seun krieket eet, drink en slaap.

Mnr. Jackie Golden het vanjaar uit die onderwys getree. Hy het Lhuan-dré vir 6 jaar afgerig. Foto: Verskaf

Jackie vertel dat hy Lhuan-dré vir ses jaar afgerig het en dat Lhuan-dré ook privaat krieketlesse by hom geneem het.

“Van dag een af was dit duidelik dat dié seun met sy hele hart en siel ’n krieketspeler is. Na elke kolfsessie smeek hy dat nog balle gegooi moet word,” onthou Jackie.

Lhuan-dré het alreeds in laerskool honderdtalle met gemak gemoker.

Krieket was en is ’n leefstyl vir Lhuan-dré. Hy was as agtjarige alreeds bewus van watter kolwe en beenskutte die eerstespanseuns mee kolf en het krieket ingedrink.

“Hy was ’n ongelooflike kaptein met kennis en visie wat sy jare ver vooruit was. Hy was ook ’n puik paaltjiewagter en draaibouler.”

Een van Lhuan-dré se sterkpunte was dat hy nog altyd ’n goeie oog vir die bal gehad het.

“Soms was die voete bietjie lui gewees omdat hy so ’n goeie oog gehad het. Ek het hom twee keer uitgegee op ’n BVP (Been-Voor-Paaltjie) by ’n sirkelkrieketweek. Hy kon dit nie glo nie. Daarna het die voete begin beweeg en geen BVP’s meer nie,” vertel Jackie.

Op laerskoolvlak het Lhuan-dré alreeds by sy spanmaats respek afgedwing omdat hulle geweet het dat hy ’n wedstryd omtrent op sy eie kan wen.

Lhuan-dré op skool by Laerskool Mooirivier.

Nog ’n aspek waarmee Lhuan-dré bewondering veroorsaak, is hoe hy sy gewrigte gebruik om die bal moeiteloos vir sesse te slaan – iets wat hy reeds as laerskoolkind ingeoefen het.

“Ons het met die kolfwerk sy gewrigte met so ’n halwe sirkelbeweging vinniger laat werk om meer krag te genereer. Dit laat mens goed voel om te sien hoe hy in ’n wêreldklas-krieketer ontwikkel.”

In sy Graad 7-jaar het hy ’n ongelooflike Super 12-toernooi saam met Jacques Schutte beleef. Hulle was ’n verwoestende aanvangspaar, met Lhuan-dré en Jacques wat albei twee honderdtalle gemoker het.

Lhuan-dré Pretorius het 188* van 79 balle vir die Titans geslaan om ‘n nuwe wêreldrekord vir die hoogste individuele telling op te stel. Foto: Titans Cricket/Facebook.

Honderdtalle is Lhuan-dré se kos – hy het ook in sy toetsdebuut vir die Proteas ’n honderdtal teen Zimbabwe aangeteken.

Sy vorm vir sy land is uitstekend en die 2027 Wêreldbekertoernooi kan ’n volgende groot geleentheid vir die jong ster wees. Met soveel talent en ’n oog vir die bal kan hy ’n wedstrydwenner wees wanneer die wêreld se beste spelers in Suid-Afrika bymekaarkom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button