Die lede van die Bailliepark-tak van die VLU het weer eens gewys dat hulle vir hul medemens omgee met ‘n spesiale besoek aan Samuel Broadbent Huis.
Die dames het saamgestaan en aan elke inwoner wat Alzheimer se siekte het ‘n heerlike bederfpakkie geskenk. Elke pakkie is met die hand versier en met lekkernye gevul.

Daar is ook borslappe vir die Alzheimer-pasiënte gemaak van materiaal wat maklik skoonmaak om die werk vir Samuel Broadbent se werkers te vergemaklik.
Suster Wilma Joubert was die spreker van die dag. Sy het die dames van die Bailliepark VLU ingelig oor Alzheimer se siekte en die vroeë tekens daarvan. Sy het ons verduidelik hoe so `n pasiënt benader moet word.
Daar moet gekyk word na die Alzheimer-pasiënt se houding en daar moet altyd met so ‘n pasiënt saamgewerk word, omdat so ‘n pasiënt baie sensitief is vir verandering.
Samuel Broadbent het ook ‘n beradingsentrum vir persone met tekens van Alzheimer se siekte.
Diegene wat hulp nodig het met ‘n Alzheimer-pasiënt kan vir Suster Wilma Joubert by (018) 297 7277 kontak.



