Verlede naweek (27-28 Mei) is daar aan belangrike projekte aandag gegee om Potchefstroom op te knap en die sigbare verval te verbeter.
Hierdie opknapping is danksy die AfriForum-tak wat vyf van hulle #VegEnBou-projekte aangepak het. Slaggate is herstel, daar is ’n sigbaarheidspatrollie en ’n speletjiesaand gehou, die konsentrasiekampkerkhof is opgeknap en indringerbome by die Alexanderpark-begraafplaas is afgesaag.
Op Vrydagoggend, 27 Mei het Dirk Venter en sy bekwame span in Chief Albert Luthuli-rylaan begin en op beweeg tot by die Bult Superspar om slaggate op te vul. Daar is altesaam 15 m² se slaggate met 60 sakkies teer gevul.

Later die aand het Afriforum se buurtwagpatrolleerders ‘n sigbaarheidspatrollie gehou om die gemeenskap veilig te hou. Patrolleerders het in 27 voertuie altesaam 690 km afgelê in al die woonbuurte. Daar is ook ’n voetpatrollie by Alexanderpark gehou. Geen voorvalle het plaasgevind nie.
![]()
Op ‘n ligter noot is daar ook Vrydagaand ’n speletjiesaand op die Bult by die Coffee Tree aangebied wat ’n uiteenlopende ouderdomsgroep van 16 mense bygewoon het. Die jongmense kon mekaar leer ken deur speletjies soos Uno en Jenga te speel. Daar is gesonde kompetisie onder die jongmense gekweek waar daar pryse aan die onderskeie wenners gegee is. Daar is vier nuwe lede gewerf en die groep sien uit na die volgende geleentheid.
Saterdagoggend is die konsentrasiekampkerhof in Burgerstraat se terrein opgeruim ter voorbereiding van die Jeugdagviering daar op 16 Junie. Die kerk en AfriForum hou egter die terrein netjies, dus was daar nie baie werk nie. Daar was nege swartsakke vol blare en bossies nadat beddings opgeruim is, en een indringerboom is uitgehaal. Die naambord wat verweer was, is deur AfriForum opgeknap en weer aangebring op die muur.

Op die terrein langs die Alexanderpark-begraafplaas is indringerbome ook afgesaag en verwyder. Ongeveer 15 bome is afgesaag en vyf bakkievragte hout is weggery, terwyl daar nog sowat ses vragte is om te verwyder. Al hierdie harde werk is deur vyf volwassenes en twee kinders gedoen. Die Alexanderpark is ook netjies gemaak om te verhoed dat sluipslapers nie daar skuil en die park vandaliseer nie. ’n Ma met haar drie seuntjies het vier swartsakke vullis daar opgetel. Die tak beplan binnekort weer ’n aksie, want daar is nog baie werk wat gedoen moet word. Tydens die aksie het die AfriForum-span ook met die munisipaliteit gereël om ’n groot waterlek daar te herstel.
“Die hoofdoel van die aksie is om ongewenste indringerbome te verwyder, die terrein skoon en netjies te maak en om ontslae te raak van skuiling vir sluipslapers. Ek wil graag elkeen wat gehelp het vir hul harde werk bedank. Ek bedank ook die AfriForum-tak in Potchefstroom se bestuur vir die naweek se aksies,” sê Piet Theron, die waarnemende voorsitter van die AfriForum-tak in Potchefstroom
“Dit was ’n heerlike naweek met lekker baie aktiwiteite waarvoor ek vir die Potchefstroom-tak se bestuur baie dankie sê vir al hulle moeite. Ek is egter teleurgesteld dat die gemeenskap nie in groot getalle opgedaag het om deel te wees van die aksies nie. Ons sal egter nie opgee nie, want ons veg teen verval en bou aan ons dorp en aan ons kinders se toekoms,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier.



