
Alexa Strachan skryf:
Liewe inwoners, ons gee graag die versekering dat die besluit om drie opwipfeeste te hou, geensins ligtelik geneem is nie.
Deur die jare heen was Aardklop se hoofdoel nog altyd om kuns en kultuur te ondersteun en om ‘n platform en inkomste vir duisende teatermakers, tegnici en ander diensverskaffers te verskaf.
Indien ons nie daardie doel ten alle koste bly najaag nie, versaak ons die kunste, kunstenaars en in die proses ook onsself.
Die bedryf is een van die wat die héél swaarste deur die pandemie getref is.
Talle akteurs, tegnici, stalletjiehouers en ander ondersteuningspersoneel het hul enigste bron van inkomste gedeeltelik of ten volle verloor, en moes en moet steeds veg om den brode. Aardklop self moes ook, ter wille van oorlewing, geweldig snoei aan besteding, ook intern aan personeel en salarisse.
Enkele kitsfeite sluit in:
– Die NWU se vakansie is van 10 tot 17 Oktober en stem dus nie ooreen met die skoolvakansie nie. Sonder ons vernaamste borg en vennoot se fasiliteite, is ‘n gewone fees in Potchefstroom bloot nie moontlik nie.
– Ongelukkig kom slegs 7% van kontant- en ander borge vanuit Potch, terwyl ons in ‘n sogenaamde normale jaar drie keer meer in Potch spandeer as wat ons inkry.
– Sonder borge is ‘n nasionale kunstefees nie haalbaar nie.
– Indien Aardklop nie die broodnodige werk en platforms bly skep vir kunstenaars nie, sal borge natuurlik hul fondse elders spandeer.
– 76% van alle kaartjiekopers vir produksies is afkomstig vanaf Gauteng.
– Sedert Aardklop 2019 het die brandstofprys met 55% gestyg, teen begin Oktober 2022 is dit waarskynlik meer. Kunstenaars, tegnici, toerusting ensovoorts moet vervoer word vanaf die Kaap en Gauteng – onkostes skiet dus die hoogte in.
– Die bestedingsvermoë van die middelklas het beduidend gekrimp, ons moet dus die fees vir die feesganger (vanaf Potch sowel as Gauteng) so bekostigbaar moontlik maak, sonder om self onder te gaan.
– Tot watter mate die gedragspatrone van mense permanent verander het, sal bloot die toekoms leer.
– Indien ons dus nie verseker kan wees dat die feesganger na die fees gaan kan kom nie, neem ons die fees na die feesganger toe.
Dit kom nie sonder risiko nie, maar soos alle besighede soms gedwing is om te vernuwe en aan te pas, is ons ook.
Van die venues in Gauteng met wie ons ooreenkomste aangaan, is baie goed toegerus, wat natuurlik ook onkostes spaar.
– Wanneer Potchefstroom feeste soos die Geesfees en Potch-Piccolo-Kunstefees aanbied, gun ons elkeen sy bestaansreg, en reg tot vrye handel en assosiasie.
Ten tye van die besluitneming om drie opwipfeeste aan te bied, was die beperking op bywoning boonop steeds 50%.
Ons hoop van harte dat hierdie skrywe ’n bietjie lig werp op van die besluite, en vertrou dat Potchefstromers en inwoners van die omliggende dorpe die fees saam met ons sal geniet. Hou ons platforms dop vir die volledige program, ons maak dit binnekort bekend.
Dit is ‘n kleiner fees, maar steeds van en met hoogstaande gehalte en kunstenaars wat gehore sal verryk, verras, vermaak en versoen!