Tydens ‘n spesiale raadsvergadering vandag (Donderdag, 30 Junie) is die klaarblyklike onbefondsde begroting vir die nuwe finansiële jaar voorgelê en deur die raad aanvaar.
Volgens die opposisie-partye in JB Marks munisipaliteit is daar te min befondsing vir alles waarvoor daar begroot is. Kortom, maak die begroting nie finansieel sin nie.
“Ons het te kenne gegee dat ons dit nie gaan ondersteun nie omdat dit nie befonds is nie. Daar is uitgawes begroot waarvoor daar nie befondsing is nie,” noem die DA koukusleier in JB Marks, Hans-Jurie Moolman.
Die JB Marks Munisipaliteit was ook glo bewus dat die onbefondsde begroting nie goedkeuring by die nasionale tesourie gekry het nie.
Volgens Moolman het die nasionale tesourie alreeds met ‘n brief die JB Marks Munisipaliteit se besluit gewaarsku dat die begroting nie befonds was nie.
“In die raadsvergadering het dieselfde brief na vore gekom, maar in hierdie brief is daar ‘n klein verandering. In die brief word daar te kenne gegee dat die begroting wel befonds is. Ons gaan indiepte ondersoek in stel om te bepaal hoekom daar twee briewe is met twee verskillende bewoordinge van dieselfde departement.
Moolman noem ook dat die DA telefonies met die departement opgevolg het en bevestig dat die brief wel gestaaf het dat die begroting nie in die brief goedgekeur is nie.
Volgens VF Plus raadslid, Thys Rossouw, is die begroting boonop aanvaar ná ʼn gebrekkige begrotingsproses wat nie aan die wetlike voorskrifte voldoen het nie.
“Die geraamde inkomste vir die munisipaliteit in die komende finansiële jaar is totaal onrealisties in die huidige ekonomiese klimaat. Dit is ook duidelik dat die beraamde uitgawes vir die jaar geensins die ekonomiese realiteite weerspieël nie.”
Rossouw voer ook aan dat die kernbehoeftes van die Potchefstroom- en Ventersdorp-gemeenskappe duidelik nie in ag geneem nie.
“Dit is bekend dat hierdie gemeenskappe lank reeds ly onder die verval van infrastruktuur en kritieke toerusting, maar die JB Marks-munisipaliteit prioritiseer onder meer R1,5 miljoen vir nuwe meublement vir die ANC-leidsliede in die munisipale raad. Verder word R2,5 miljoen toegewys aan ʼn visplaasprojek waarvan die meerderheid raadslede nie bewus is nie. ʼn Miljoen rand is ook toegewys aan ʼn nuwe ampsmotor vir die burgemeester,” lig Rrossouw ‘n paar van die besluite in die begroting uit.