Onwettige inwoners ‘n groot kopseer by Harmonie
Daar is groot ongelukkigheid by die inwoners van Harmonie woonstelle op die Bult rondom mede-huurders wat die kompleks se reëls oortree. Volgens een van die inwoners is daar van die mede-inwoners wat hulle kinders en kleinkinders op die perseel huisves. “Daar is hoeveel verbale en fisieke konfrontasies met die oumense hier. Dit is kontrakbreuk dat …
Daar is groot ongelukkigheid by die inwoners van Harmonie woonstelle op die Bult rondom mede-huurders wat die kompleks se reëls oortree.
Volgens een van die inwoners is daar van die mede-inwoners wat hulle kinders en kleinkinders op die perseel huisves.
“Daar is hoeveel verbale en fisieke konfrontasies met die oumense hier. Dit is kontrakbreuk dat jongmense enigsins hier woon,” noem hy.
Dit is teen die reëls van Harmonie, aangesien daar net twee persone (‘n ouerpaar) per woonstel mag bly. Immergroen langsaan Harmonie is vir enkellopende inwoners ingerig.
Harmonie woonstelle behoort aan die munisipaliteit met die hoofdoel om lae inkomste behuising aan bejaardes te verskaf.
Volgens die reëls van Harmonie woonstelle mag ‘n huurder nie die verhuurde woonstel onderverhuur nie. Slegs die huurder en sy/haar wettige eggenoot mag in die woonstel woon.
Geen ander persoon insluitend kinders, kleinkinders, familielede, studente of kennisse, mag daar woon nie.
Daar is reeds sedert Mei besprekings rondom die oortreding van die reëls. Tydens hierdie publieke vergadering was inwoners, die munisipaliteit se Departement van Behuising en wykskomiteelede ook betrokke.
Volgens die DA wykraadslid (wyk 7) van die gebied, Johni Steenkamp, is sy al vir maande bewus van die probleme rakende onwettige inwoners by Harmonie en dat daar stadig maar seker vordering is.
“Ons het tot einde Mei aan die inwoners wat die reëls oortree ‘n kans gegun om einde Junie seker te maak dat van die onwettige inwoners nie meer daar bly nie. Ons doen ook gereeld inspeksie. Inwoners moet die reëls van die kompleks gehoorsaam, anders kan hulle uitgesit word,” noem sy.
Volgens Steenkamp kan daar regsprosedures gevolg word as inwoners hulle nie aan die reëls steur nie. Daar bly tans ses seuns en ‘n kleinseun onwettig op die perseel.
“Ons probeer die inwoners soveel moontlik help. Ander inwoners kan nie swaarkry omdat daar mense is wat onwettig daar bly nie. Ek kry klagtes dat inwoners geskel word en met drank in die gesig gegooi word,” noem sy verder.
Sy noem ook dat die munisipale begroting nie genoeg is om altyd aan al die basiese behoeftes van die inwoners te voorsien nie.
“Dit is belangrik dat die inwoners warm water het, veral in die winter. Die inwoners is ook baie afhanklik van donasies,” noem sy.
Steenkamp beplan om ‘n daadwerklike verskil vir bejaardes in wyk 7 te maak. “Daar is mense in ons gemeenskap wat graag wil gee, maar nie weet hoe of waar nie. Daar is werklik ’n groot behoefte by bejaardes. Elke klein bietjie help. Daar is ook projekte ten gunste van bejaardes in die pyplyn wat ek in die komende maande sal wil loods.”
* Die Herald het die J.B Marks munisipaliteit vir kommentaar genader, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.