NewsNews

Spanpoging kelder prospekteerreg aansoek in die Mooirivier omvangsgebied

Die plaaslike gemeenskap, burgerlike organisasies in verskeie sektore en politieke partye se kritiek en kommer oor die projek het wel ‘n deurslaggewende rol gespeel dat die aansoek teruggetrek is.

Die maatskappy wat aansoek vir nie-indringende prospekteerreg vir Gerhard Minnebron en omliggende areas aansoek gedoen het, het Dinsdag, 5 Julie hul aansoek onttrek.

“Sunshine Mineral Reserves (Edms) Bpk het die prospekteerregsaansoek vir die NW Potch Goldfield Projek (30/5/1/1/2/13107 PR) teruggetrek. Dit is weens die sensitiewe aard van die omgewing rakende die aansoekarea,” het Bongi Siwendu namens Imbokodo Services in ‘n verklaring aan geaffekteerde partye en belangstellendes genoem.

Sunshine sou die gebied buite Potchefstroom, wat gedeeltes van Gerhard Minnebron, Vyfhoek en Rietfontein insluit, op nie-indringende wyse eerste prospekteer. Die publiek het die geleentheid gehad om beswaar te maak voor 30 Junie 2022.

Die projek se aansoek was al by die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie goedgekeur.

Die plaaslike gemeenskap, burgerlike organisasies in verskeie sektore en politieke partye  se kritiek en kommer oor die projek het wel ‘n deurslaggewende rol gespeel in hierdie nuwe besluit. Die groot kommer was rakende water wat vanuit Gerhard Minnebron se natuurlike oog met mynbouaktiwiteit besoedel kon word.

Daar was ook in erfenissektore kommer oor die impak van die prospektering en hoe dit geskiedkundige grond en artefakte kon beskadig.

Johan Wolfaardt, voorsitter van Heritage Potchefstroom Erfenis staaf dat hy dankbaar is dat die aansoek teruggetrek is.
“Die onvervangbare Khoisan, Tswana, Voortrekker en Anglo-Boere Oorlog erfenis, hetsy bo of ondergronds is dus veilig. Alhoewel ons nie onsimpatiek is tot die feit dat hierdie aktiwiteit ekonomiese impak sou he op ons dorp nie, voel ons dat die area beter ontging kan word as toerisme bestemming, waaruit werkskepping, vaardigheids ontwikkeling en ekonomiese groei kan spruit,” noem Wolfaardt.

Die gedeelte wat geprospekteer wou word. Die aansoek is wel weens die sensitiewe aard van die omgewing teruggetrek.

Die DA koukusleier in J.B Marks munisipaliteit, Hans-Jurie Moolman, noem dat dit verblydend is dat die aansoek teruggetrek is veral nadat bewusmaking oor die aansoek by die Departement van Waterwese en navraag in verband met die aansoek, vrugte afgewerp het.

“Ons het met onlangse korrespondensie aan die mynmaatskappy navraag gedoen oor die verandering van grondgebruik van landbou na mynbou. Letterlik ’n dag daarna het ons terugvoer ontvang dat die aansoek teruggetrek is. Dit beteken dat die bedreiging van ons skoonwater hulpbron iets van die verlede is. Ons sal aanhou om seker te maak dat in besonder ons skoonwater nie bedreig word nie.”

Die VF Plus het vroeër uitgewys dat Gerhard Minnebron, ʼn natuurlike oog wat sowat 73% van Potchefstroom se water voorsien, vernietig kan word weens besoedeling met swaarmetale as die grondstruktuur enigsins in die omgewing versteur word.

VF Plus provinsiale leier in Noordwes, Michal Groenewald, was ook eens dat die terugtrek van die aansoek ‘n oorwinning vir die gemeenskap is.

Die sukses van die veldtog is weereens ʼn bewys van die krag van gemeenskappe wat saamstaan en tydig en doeltreffend optree om die bewaring van skaars natuurlike hulpbronne te verseker. Die VF Plus sal ook voortgaan om waaksaam te wees om te voorkom dat die land se natuurlike hulpbronne deur onoordeelkundige myn- en ander ontwikkelings in gevaar gestel word.” noem VF Plus provinsiale leier, Michal Groenewald.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button