Volkie rugbyspeler sterk tuis aan na suksesvolle operasie
Juavan Prinsloo (17) is op die herstelpad nadat hy drie nekwerwels gebreek het.
Die Volkie-rugbyspeler wat drie nekwerwels twee naweke gelede tydens ‘n rugbywedstryd gebreek het, Juavan Prinsloo (17), sterk tans by die huis aan na ‘n suksesvolle operasie.
Die operasie het verlede Woensdag (10 Augustus) in Thsepong Hospitaal in Klerksdorp plaasgevind. Juavan ervaar wel nog baie pyn na die operasie. Die operasie het vyf en ‘n half ure geduur.
Volgens Juavan se pa, Rudi Snyder, was die operasie ‘n groot sukses.
“Toe Juavan Vrydag kon huis toe kom na die operasie was daar trane van blydskap. Dit gaan ‘n lang proses wees met die herstel en rehabilitasie wat voorlê ,” noem Rudi.

Juavan gaan die volgende drie weke tot ‘n maand nog in ‘n hospitaalbed wees wat vir hom by die huis ingerig is. Hy dra nog ‘n nekstut en sal nie veel kan beweeg nie. Hy sal ook in hierdie tydperk ‘n fisioterapeut sien wat met behandeling sal help.
“Dit gaan ‘n groot aanpassing wees, aangesien hy baie sportief is. Ons is net dankbaar vir almal se hulp en gebede en dat hy nou op die herstelpad is,” noem Rudi.
Sy pa noem ook dat sy ouer broer, Dean Snyder, ook ‘n rugbybesering opgedoen het, wat sy seisoen ook vir eers stopgesit het.
“Sy broer het sy skouer beseer so dit moet nou ook herstel. Dit is maar rof, maar ons bly positief.”




