Mooirivier leerder is beste redenaar in die land
Die nommer een redenaar in die land is die kleinseun van die bekende politikus, Dr. Pieter Mulder.
Daar is geen redenasie dat Laerskool Mooirivier se graad-7 leerder, Pieter Kruger (12), die beste redenaar in die land is nie.
Pieter het op Dinsdag, 16 Augustus die ATKV Nasionale Redenaarskompetisie in die Graad 6 en 7 Afrikaans Huistaal afdeling by ATKV Buffelspoort gewen. Hy is sodoende die eerste leerder in Laerskool Mooirivier se geskiedenis wat hierdie uitsonderlike prestasie behaal.
In vanjaar se ATKV Landswye Redenaarskompetisie het Pieter die beoordelaars in vervoering gehad met albei sy toesprake. Sy voorbereide toespraak was “Postiewe denke en humor maak lemonade van die lewe.” Hierdie toespraak het 20% van sy totale punte getel.
Die onvoorbereide toespraak het 80% van sy totale punte getel met die onderwerp “Kinders se skermtyd moet/moenie beperk word nie.”
Pieter vertel blinkoog dat hy net ‘n uur en ‘n half gehad het om deur bronne wat verskaf is te lees en sy toespraak te skryf wat hierdie bronne dan insluit.
“Ek het gekies om te redeneer dat skermtyd nie beperk moet word nie en my standpunt gemotiveer. Dit is een van die belangrikste aspekte van redenaars om jou redes te kan motiveer en die beoordelaars te kan oortuig,” noem hy.

Dit is nie toevallig Pieter van so jong ouderdom af in redenaars presteer nie, hy kom juis uit ‘n familie van uitsonderlike staatmakers in hulle onderskeie velde.
Sy ma, Dr. Suzanne Mulder, is ‘n bekende dokter in Potchefstroom en sy pa, Prof. Pieter Kruger, is ‘n alombekende kliniese sielkundige en die direkteur van die NWU se CHHP (Centre for Health and Human Performance). Boonop is sy oupa die bekende politikus en voormalige leier van die Vryheidsfront Plus, Dr. Pieter Mulder.
Met so interessante en veelsydige netwerk kon Pieter van jongs af alreeds sy kennis goed uitbrei – hy het in graad 1 ‘n toespraak oor donker gate gelewer nadat hy met sy oupa oor die onderwerp van sterrekunde gesels het.

“In graad 1 het juffrou Martie Schoonwinkel vir my aangemoedig om redenaars te doen en sy het vir my genoem dat ek goed sal wees daarin. Ek het toe in graad 2 in my eerste redenaarskompetisie deelgeneem en dit regtig geniet,” vertel Pieter.
Die 2022 ATKV Redenaarsfinaal vir die Graad 6 en 7 Afrikaans Huistaal afdeling het uit 27 deelnemers bestaan, wat drie uit elke provinsie sowel as Namibië ingesluit het.
Die kompetisie was uitdagend met elke redenaar wat van uitsonderlike gehalte was. Die naaswenner in Pieter se afdeling was Adam Korb van Laerskool Jan Cilliers in Gauteng en in die derde plek is Anouk Gerber van Laerskool Durbanville in die Wes-Kaap.

Pieter vertel dat hy letterlik en figuurlik nie die landstitel kon wen sonder sy ma, Suzanne, se volgehoue ondersteuning nie.
“My ma het my baie gehelp omdat sy ook baie goed in redenaars op skool was. Ek kon ook letterlik nie sonder my ma se hulp die titel gewen het nie, aangesien ek nog nie kan bestuur nie en sy my na die finaal toe moes ry,” sê Pieter, wat volgende jaar Potchefstroom Gimnasium toe gaan.
“Dit is ‘n baie lekker gevoel om te kan wen. Nie baie mense het die geleentheid om die landsfinaal te wen nie, omdat dit so kompeterend is en almal wat daar is verdien om daar te wees.”
Pieter vertel ook dat hy dit baie geniet het om na ander finaliste se toesprake te luister en sy passie vir redenaars met ander mede-redenaars kon deel.
“In redenaars is dit die belangrikste om nie te bekommer of te stres nie. Voer jou opinie, staaf dit met goeie bewyse, glo in jouself en geniet dit net ten volle.”




