Laerskool Noord gaan jou lagspiere kielie by Aardklop
Laerskool Noord se leuse is "Kyk Noord en stoot voort", maar in hierdie lekker lag produksie is dit alles behalwe die geval.
‘n Lekker lag produksie soos min gaan by Aardklop in Potchefstroom vanaf 30 September – 2 Oktober 2022 feesgangers vermaak.
Laerskool Noord is ‘n komedie met gesoute akteurs Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee wat handel oor wat agter die swartbord in ‘n laerskool gebeur.
Laerskool Noord se leuse is “Kyk Noord en stoot voort”, maar in hierdie lekker lag produksie is dit alles behalwe die geval. Drie onderwyseresse beplan ‘n verrassingsafskeidspartytjie vir hul skoolhoof se aftrede. Tussendeur die netbaljuffrou, Zelda de Wet, se vreeslose fluitjie, Bets du Preez se dramatiese deurmekaar administrasie en kaftans en sorglose Marietjie wat probeer om die wit vlaggie van vrede te laat wapper en seëvier, met haar glitter stickertjies en sticky notes, is hierdie personeelkamer ‘n tikkende tydbom. En boonop gaan Meneer enige oomblik aankondig wie by hom oorneem as die nuwe hoof van Laerskool Noord. Kan dit een van hulle wees?
Laerskool Noord is ‘n komiese kykie na wat werklik agter die swartbord gebeur. Skrywer, Ilne Fourie, bekend vir haar RSG-radiodramas, kleur met haar tong-in-die-kies humor en pittige waarnemingsvermoë hierdie karakters so in dat iedereen van ons sonder twyfel een van ons oud-onderwyseresse sal herken.
Gideon Lombard, bekroonde akteur en regisseur, hou almal se varkies, en in Meneer se geval, poedels op hok.
Die produksie word geskep in samewerking met Vrystaat Kunstefees en Aardklop en NATi.
Laerskool Noord het ‘n ouderdomsbeperking van 13.
MOMONETUM BELEGGINGS AARDKLOP
Venue 1: Beeld Ouditorium, Potchefstroom
Datum & Tyd: 30 Sept 10:00, 1 Okt 15:00, 2 Okt 10:00
Kaartjies is beskikbaar by Ticketpro.






