IT-boffins maak Ferdies trots
Ferdies is ook die enigste skool in die Noordwes wat deurdring na die derde rondte van hierdie Olimpiade
Twee van Ferdies se IT-boffins en graad 12-leerders, Kenna Geleta en Alexander van der Walt is albei eerste in Noordwes met die tweede rondte van die Programmering Olimpiade.


Ferdies is ook die enigste skool in die Noordwes wat deurdring na die derde rondte van hierdie Olimpiade, en is een van slegs 9 skole in die hele SA wat hierdie voorreg het.
“Die Ferdiefamilie is vreeslik trots op die leerders en Mnr Dejon Weyers wat ons leerders so mooi help met IT en voor loop in hierdie verband,” het die skool genoem.
Weyers vertel dat hierdie IT olimpiade probleemoplossingsvaardighede in verskillende IT-tale bevorder.
“Gewoonlik in die tweede rondte is daar vier vrae wat elkeen uit 100 punte tel. Die leerders weet nie vooraf wat die vrae is nie en moet dan programeringstaal gebruik om ‘n program te ontwikkel om ‘n probleem in ‘n spesifieke tydperk op te los.
In die derde rondte kry deelnemers gewoonlik vyf ure om drie vrae te voltooi. Dit is nogal intens,” verduidelik Weyers.
Hierdie twee leerders het nou die geleentheid om ook internasionaal deel te neem.
“Op 8-10 Oktober sal die derde rondte in Kaapstad plaasvind. Kenna het verlede jaar die internasionale span behaal en vanjaar is daar ‘n kans dat albei ons leerders die span kan behaal wat astronomies goed sal wees. Ons sien baie uit vir dit,” noem hy verder.




