Nou is dit 19 jaar later en Fokofpolisiekar gaan weer in Potch fees vier
Die rockgroep se kleurvolle en interessante verbintenis met Potchefstroom strek al sedert hulle eerste vertoning in 2004 by Bourbon Street op die Bult, waar hulle teenkanting gekry het glo weens omstrede lirieke en taalgebruik. Die Herald het met die baskitaarspeler, Wynand Myburgh, gesels oor hul Potch-ervaringe oor die jare.
Die Afrikaanse alternatiewe rockgroep, Fokofpolisiekar, gaan op Vrydag, 28 Oktober hulle 19de verjaarsdagpartyjie behoorlik in Potchefstroom by die Snowflake-gebou vier. Hierdie groep keer juis terug na Potchefstroom vir die eerste keer sedert 2017 tydens die Selfmedikasie-toer. Vir die vertoning by Snowflake kom Jack Parow en Angie Oeh saam om in die viering te deel.
Dit maak net sin dat Fokofpolisiekar hulle 19de verjaarsdag ook in Potchefstroom kom vier, aangesien hulle genoeg verhale in hierdie stad het, om ‘n boek te skryf.
Die rockgroep se kleurvolle en interessante verbintenis met Potchefstroom strek al sedert hulle eerste vertoning in 2004 by Bourbon Street op die Bult. Na hierdie vertoning is hulle verban glo weens hulle omstrede lirieke, taalgebruik en sogenaamde swak kwaliteit musiek.
Wynand Myburgh, die baskitaarspeler van Fokofpolisiekar, vertel dat die groep nou baie meer deel van die hoofstroom is en nie meer as randfigure gesien word nie.
“Fokofpolisiekar is nou al deel van die furniture. Ons het fans van jonk tot oud en meer mense is bewus van ons. Die mense wat na ons geluister het in die begin, is nou ook al ouers en stel hul kinders bloot aan ons musiek. Baie dinge het verander, maar ons as ‘n band het nog steeds dieselfde mentaliteit, ons benader dalk net dinge anders. Ons is wyser en rustiger,” noem Myburgh.

In opbou tot hulle vertoning by Snowflake het Fokofpolisiekar op Facebook ook foto’s geplaas met kort stories oor hulle herinneringe van Potchefstroom. Dit sluit in foto’s wat by die Totius-standbeeld geneem is, sowel as waar hulle in ‘n “backpackers” moes slaap aangesien hulle begroting destyds skraps was.
“Veral met ons shows waar ons verjaarsdae vier is dit lekker om ‘n narrative op social media te kan skep. Baie van ons fans weet nie altyd van ons geskiedenis en waar ons orals gespeel het nie. Dit is ‘n lekker manier om ook met ons fans te interact en hulle stories te hoor van daardie tyd,” vertel Myburgh.
In 2004 was die media-landskap ook baie anders. Die enigste manier om werklik bekend te word, was om dekking in hoofstroom-media te kry.
“Dit was vir ons destyds as ‘n band baie goed en joernaliste het na iets anders gesoek om oor te skryf. Toe ons op die scene kom was die media baie toeganklik en het gehelp om die woord te versprei,” meen Myburgh.
Nou met sosiale media is daar ander uitdagings wat die landskap weer baie verander.
“Daar is net so baie inligting op sosiale media. Dit is ‘n hele ander model, maar daar is soos met alles, positiewe aspekte wat ons as band op ander wyses kan bemark as in die verlede.”
Fokofpolisiekar probeer van dag een af om die grense te skuif van wat as “normaal” gesien word met die hoofdoel om net hulself kan wees. Myburgh noem nes Fokofpolisiekar ook teenkanting gekry het in hulle vormingsjare, is ‘n nuwe kunstenaar soos Angie Oeh met haar unieke styl, ook in dieselfde bootjie. Angie Oeh is juis vanjaar tydens Rocking Potch met ys op die verhoog gegooi, weens haar omstrede musiek, wat nie by almal aanklank vind nie.
“Angie werk regtig hard aan haar loopbaan en is baie anders van die stage af as op dit. Sy is ‘n kunstenaar en dit wat sy in haar kuns doen, doen sy om die norme uit te daag. Ek hou van haar musiek, sy doen iets anders en dit wat sy geniet.”
“Fokof het ook ‘n punt gehad om te bewys toe ons begin het. Ons het iets heeltemal anders gedoen omdat daar nie iets soos Afrikaanse Punk Rock was nie. Ons wou ook wegbreek van die hoofstroom en veg vir ons plek in die samelewing. Nou is ons gevestig en ‘n groot deel van die kultuur,” vertel Myburgh.
Fokofpolisiekar is nie net ‘n band nie, maar ‘n handelsmerk.
Die voortdurende sukses van Fokofpolisiekar volgens Myburgh gaan nie noodwendig oor die kommersiele aspek nie, maar eerder in die feit dat al vyf lede nog steeds bymekaar is en saam musiek maak wat hulle wil luister en geniet.
“Toe ons Selfmedikasie in 2017 vrygestel het, was ons onseker of mense noodwendig dit gaan geniet, al het ons baie daarvan gehou. Ons het byvoorbeeld vir “Komma” as een van die laaste songs opgesit, toe word dit n groot treffer.”
“Wanneer ons bymekaar kom dan kliek goed net. Ons is eerlik met mekaar en onsself en bring musiek uit wat dit uitbeeld. Daar is ‘n energie as ons bymekaar is en ons fans deel ook daarin. Ons voel dat dit ook tyd is vir ‘n nuwe album in die nabye toekoms,” meen hy.

Dit is ook op die verhoog waar Fokofpolisiekar altyd 100% gee en hulle fans ‘n ervaring gee waar hulle nog meer soek.
“Dit was vir ons as ‘n band amazing om weer te kon live speel na Covid. Vir 19 jaar is dit deel van my DNA om voor mense te speel. Dit het gevoel of daar ‘n deel is wat missing is. Ons is baie opgewonde om weer in Potch te kan speel en met ons fans te kan interact op stage en ‘n paar high fives te gee,” sê Myburgh.
Nou kan talle Potchefstromers weer na ‘n vertoning uitsien wat die dak sal laat lig.
“Potch het al baie hoogtepunte vir ons ingehou. Ons eerste show by Bourbons, ‘n show by Castillions in 2005, en al die Aardklop en OppiAarde shows ook is goeie memories. Dit was propvol mense en iets waarna ons jaarliks uitgesien het. Naas Pretoria, is Potch definitief in ons top drie plekke om te speel.”
18:00 – Deure open
19:00 – Angie Oeh
20:00 – Jack Parow
21:00 – Fokofpolisiekar




