R 20 455: Munisipaliteit vier fees met kos en drank by partytjie
By ‘n goedgekeurde munisipale aangeleentheid om vrouemaand te vier is daar R 20 455 se uitgawes op kos en drank by 'n restaurant spandeer.

By ‘n goedgekeurde munisipale aangeleentheid om vrouemaand te vier is daar R 20 455 se uitgawes op kos en drank by ‘n restaurant spandeer.
Hierdie viering wat op Vrydag 26 Augustus vanjaar plaasgevind het, het die direktoraat: Korporatiewe Dienste van die JB Marks Munisipaliteit vir werknemers gereël om sekretaressedag te vier.
Hier is ‘n uiteensetting van die rekening:
Die fisiese rekening:
- In totaal is R8,309.00 aan kos en, R10,350.00 aan drank bestee.
- Die kelner is met ‘n fooi van R 1 859.63 beloon.
- Volgens die JB Marks munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite, is hierdie geleentheid wat op geslagsgeweld gefokus het vir ongeveer 30 vroue gehou.
“Ten spyte van beperkinge op sekere drank het sommige amptenare steeds nog drank gekoop. Dit was ‘n goedgekeurde byeenkoms en werknemers het nie na die ete teruggegaan werk toe nie. Die publiek moet nie dink dat werknemers tydens werksure besope was of hulle werkstasies verlaat het nie,” – JB Marks woordvoerder Jeanette Tshite.
“Dit word nie toegelaat in die huidige omstandighede nie. As daar internasionale gaste is, mag daar vergunning gemaak word,” noem Tshite.
Die DA raadslid, Chris Hattingh, is van mening dat ‘n nuwe laagtepunt bereik is met hierdie geleentheid waar belastingbetalers moet opdok vir die fees.
“Senior JB Marks beamptes wat veronderstel is om etiese standaarde, werksetiek en dissipline in die administrasie te handhaaf het hierdie geleentheid goedgekeur. Die DA veroordeel hierdie misbruik van posisie en hulpbronne ten sterkste. Hierdie belastingbetaler-gefinansierde fees is niks anders as ‘n klap in die gesig van elke enkele inwoner van Ikageng tot Bailie Park nie,” – Chris Hattingh.