Nuwe hofbevel vereis dat Mooibank-grondbesetters hul tasse moet pak
Hierdie hofbevel bepaal dat die Departement van Landelike Ontwikkeling voor of op 31 Januarie 2023 moet toesien dat uitsetting uitgevoer word.
Daar is vordering in die aangaande kwessie rakende die onwettige grondbesetters in die Mooibank-area nadat daar vandag ‘n suksesvolle hofbevel rakende die uitsetting van die grondbesetters verkry is.
Hierdie hofbevel bepaal dat die Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling voor of op 31 Januarie 2023 moet toesien dat die uitsetting uitgevoer word. Die rede hiervoor is dat die stuk grond wat die plakkers tans beset, aan hierdie departement behoort.

Volgens Cindy du Plessis, die prokureur wat namens die Potchefstroom-Suid Eiendomeienaarsvereniging optree, is die oorspronklike saak rakende minagting van die hofbevel teen die JB Marks Munisipaliteit en die munisipale bestuurder teruggetrek.
“Die rede hiervoor is dat die aanvanklike uitsettingsaansoek die grondbestters verhoed het om verder op munisipale grond te beset. Die stuk grond wat aan die stadsraad behoort is nou onbeset,” noem sy.
Volgens Du Plessis gee die goedgekeurde hofaansoek vir die Departement vir Landelike Ontwikkeling ongeveer drie maande om die uitsetting toe te pas. Daar is ook regshulp teen die polisie verkry.
“As die departement nie die bevel teen 31 Januarie 2023 nakom nie dan is hul in minagting van ‘n hofbevel en dan gaan ons voort met aansoek om minagting van ‘n hofbevel teen die relevante minister. As die SAPD ook iets doen wat hulle in terme van die bevel nie doen nie, is dit ook minagting van die hofbevel,” meen Du Plessis.
Volgens die koukusleier van die VF Plus in JB Marks, Marlene Steyn Du Toit, is die party tevrede dat daar vordering met die hofbevel is.
“Die VF Plus het deurlopend druk op alle regeringsvlakke toegepas om reg en orde in die Mooibank-gebied te herstel,” noem sy.
Steyn du Toit voer ook dat die burgemeester van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit, Gaba Ka Qhele, op versoek van die VF Plus met die polisie se provinsiale kommissaris, lt.genl. Sello Kwena, vergader om die veiligheidsituasie in die gebied te bespreek.
“Die kommissaris het onderneem om polisie-teenwoordigheid in die Mooibank-gebied te vergroot om die plaaslike inwoners teen die gewelddadige optrede van onwettige besetters te beskerm.”




