PAWtch Fest wys gemeenskap se hart vir PAWS se diere
Die Oulikste Troeteldier-kompetisie was ook ‘n groot treffer met sowat 40 deelnemers wat met hulle diere gespog het.
Die eerste Pawtch-fest ten bate van Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) was ‘n groot sukses, wat weer eens bewys het dat Potchefstromers se harte vir diere steeds sterk klop.


Die fees wat verskeie kompetisies en aktiwiteite ingesluit het, was om die honde en katte van PAWS te help.
Die Oulikste Troeteldier-kompetisie was ook ‘n groot treffer met sowat 40 deelnemers wat met hulle diere gespog het.
Wenner: Natasha Pengilly met haar hond, Jakkals.
Tweede: Claudio Lucas met sy hondjie, KJ.
Derde: Louise Kleinhans met haar hasie, Bazil neem die derde plek.
Al die stalletjies wat by die Pawtch Fest was het ook 10% van hulle inkomste op die dag vir PAWS geskenk.

Johan Jooste, wat PAWS by die Pawtch-fest verteenwoordig het, noem dat die dag ‘n groot sukses was.
“Ons het redelike donasies gekry en die mense wat met hul honde aan die Oulikste Troeteldier-kompetisie deelgeneem het, was ook baie gaaf. Daar was op die dag baie pryse,” noem hy.
Volgens PAWS se bestuurder, Theo Koekemoer, is dit verblydend om te sien dat die gemeenskap inisiatiewe soos die Pawtch Fest ondersteun.
“Om te sien hoe mense PAWS ondersteun, is regtig lekker. Op hierdie stadium is ons 150% vol en kan nie meer honde inneem nie. “Ons kort huise vir ons honde en katte. Ons kort ook hondekos vir veral ons klein babahondjies.”

Koekemoer noem ook dat hondekos oor die algemeen altyd ‘n groot nood is. “Ons hier by PAWS gebruik 80 kg hondekos per dag. Omdat ons ‘n nie-winsgewende organisasie is, maak ons baie staat op die publiek.”










