Pompstasie probleme ‘n groot faktor vir rioolkrisis
Die negatiewe gevolge word reeds oor die afgelope paar maande gevoel met boere wat beeste verloor het, sowel as inwoners wat daagliks die stank van rou riool moet trotseer.
Rou riool wat op die hoek van Govan Mbeki-laan en Chris Hanistraat in die Mooirivier inloop, is
stelselmatig besig om in ‘n ekologiese krisis te ontaard.
Die negatiewe gevolge word reeds oor die afgelope paar maande gevoel met boere wat beeste verloor het,
sowel as inwoners wat daagliks die stank van rou riool moet trotseer.
Die rioolkrisis word ook verder vergroot deur die effek van beurtkrag op die pompstasie in Chris Hanistraat.
Volgens VF Plus raadslid, Ian de Villiers, is daar sedert Oktober verlede jaar geen verbetering aan die rioolprobleem nie.
“Rou riool word in die Mooirivier sisteem gepomp. Dit vanuit ‘n 600mm pyp wat vanaf Grimbeekpark en
Bailliepark tot by die Mooirivier loop,” noem hy.
“Daar is twee pompe by die pompstasie wat vervang moet word. Tydens beurtkrag wanneer die pompe nie werk nie, moet die kragopwekker inskop om die funksie oor te neem. Maandagoggend toe ek by die pompstasie was, is daar dieselaangery, aangesien daar nie diesel vir die kragopwekker was nie. Hierdie toestand binne die pompstasie
is ook totaal en al onaanvaarbaar,” noem De Villiers.

Volgens een van die inwoners wat in die area woon, Alida Bezuidenhout, is hierdie stank van die riool ondraaglik en het die afgelope naweek so erg geraak dat hulle nie gaste in hulle huis kon onthaal nie.
“Ons asem die vrot reuk in en dan stink ons huis ook daarvan. Verder word daar ook buite die pompstasie gemors, terwyl die grasse ook al hoe langer om die pompstasie is,” noem sy.
Haar man Peet, vertel ook dat die lang gras wat verby hulle erf loop ook ‘n geleentheid gee vir werkloses om daar te ontlas, wat die probleem vererger.
“Ek het al ‘n man betrap dat hy daar sy ding doen. Ek het hom toe daar weggejaag,” noem Peet, wat
ook al gif in die area gegooi het om die groei van onkruid om sy erf te
bekamp.

Volgens een van die beesboere in die area, Pieter Grimbeek, sukkel hy en sy pa Dries, met die uitwerking van die riool wat ‘n direkte impak op hul beeste het.
“Ons beeste wei naby waar die rivier in die veld inloop. Twee van ons sterk kallers het gevrek. Dit is reeds groot skade en dit is ‘n groot moontlikheid dat dit die water moet wees.
Ons moet nou op ander spuitprogramme gaan. Die inwendige parasiete is net te veel en ons kry
dit nie onder beheer nie.” noem hy.
Volgens JB Marks munisipaliteit woordvoerder, Jeanette Tshite het die pompstasie in 2022 meganiese
probleme ondervind. ‘n Bykomende bystandpomp word korttermyn gebruik wat meer instandhouding en monitering
verg om blokkasies hok te slaan.
“Die munisipaliteit is in die proses om ‘n diensverskaffer aan te stel om te keer dat meer stortings plaasvind en te verseker dat inwoners nie aan die besoedeling blootgestel is nie.”






