Robbeneiland na Bloubergstrand: ‘n Yskoue swem van ‘n leeftyd
Om vir sewe kilometer in die yskoue see vanaf Robbeneiland tot by Bloubergstrand in Kaapstad te swem, is iets wat die Potchefstromer, Hein Papenfus, vir die res van sy lewe sal onthou.
Om vir sewe kilometer in die yskoue see vanaf Robbeneiland tot by Bloubergstrand in Kaapstad te swem, is iets wat die Potchefstromer, Hein Papenfus, vir die res van sy lewe sal onthou.
Nie net het hy die yskoue temperature van slegs 11 grade Celsius trotseer nie, maar hy moes ook die onstuimige see, vrese vir haaie (wat toe gelukkig dolfyne was), sowel as die uitputting van die swem op verskeie vlakke in drie uitmergelende ure oortref.

Die avontuur het sonder te veel beplanning begin – ‘n uitdaging wat Hein besluit het om aan te pak in sy tyd in die Kaap gedurende die Desembervakansie. “Ek het die vakansie op Bloubergstrand gesit en vir my vrou genoem dat ek graag van Robbeneiland tot by Bloubergstand wou swem. Ek het gewonder of mense dit al gedoen het. Dit was iets om te probeer, veral omdat ek nou oefen vir vanjaar se Ysterman-resies in Maart in Port Elizabeth.”

Slegs ‘n paar dae later (Sondag, 8 Januarie) was hy vroegoggend om 04:00 op ‘n boot in die see met die swem van ‘n leeftyd wat vir hom en sy vriende, Stefan van Vuuren en Gustaf Tempelhoff gewag het.
Stefan, ‘n voormalige onderwyser by Volkies, het ingestem om saam met hom te swem en die avontuur aan te pak. In die begin van hulle gesprekke was Stefan self onseker of Hein nie net ‘n grap maak nie. Hein bieg ook dat hy baie bootbystand gehad het en met behulp van paddavoete en ‘n goeie duikpak (wetsuit) uiteindelik die swem kon voltooi.
“Ons moes oral waar ons sweet, Vaseline smeer sodat water nie daar inloop en dit nog kouer maak nie. Dit was ongelooflik koud, om in die water te gaan laat mens diep asemhaal. ‘n Mens se lyf is nie gewoond daaraan nie,” meen hy.
Hein en sy vriende het met die hulp van Derrick Frazer van Big Bay Events die swem aangepak.
Hy vertel dat ‘n boot hulle sowat 100 meter van Robbeneiland afgelaai het. Daarna het hulle tot by die eiland geswem, voordat hulle teruggedraai en die swem na Bloubergstand aangedurf het.
“Die eerste kilometer is nie te moeilik nie, maar daarna het dit elke kilometer erger geraak omdat dit so koud was. By so drie kilometer was daar dolfyne wat ons kom groet het. Toe ek vining kyk, het ek eers gedink dit was haaie of Orca walvisse. Om die dolfyne te kon sien was ‘n belewenis. Mens voel dan net so oorgelewer aan die natuur,” meen hy.
Hoe verder Hein geswem het, hoe kleiner het hy gevoel waar hy tussen massiewe hoeveelhede water omring was en in die verte die reusheid van Tafelberg in die horison beleef het. Albei se vroue was ook saam op die boot om ondersteuning te bied tydens die swem – die laaste paar kilo’s is beslis ‘n demonstrasie van hoe om vas te byt deur die moegheid.
“Mens doen die swem soos jy ‘n olifant sou eet. Stuk vir stuk, 100 meter op ‘n slag. Die einde van die swem is ook spesiaal, al het ons niks meer oorgehad om te gee nie. Toe ons die strand haal het ek begin huil van dankbaarheid. Daar is so baie vrese wat mens deurwerk tydens die swem, en die feit dat ek en Stefan dit saam kon doen en dit beleef, was ook ‘n baie spesiale oomblik,” vertel hy.
Volgende op Hein se lys is die Ysterman (70.3 kilometer) wat in Maart plaasvind. “Die plan is om dit te voltooi, aangesien dit my eerste een is. Dit sal ‘n bonus wees om dit binne 7 ure te voltooi,” noem hy met ‘n glimlag.







