Watervlakke wisselvallig by Vyfhoek-reservoir
Die JB Marks Munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite, het die afgelope week ‘n persverklaring uitgereik waarin daar ook genoem word dat beurtkrag ook ‘n groot rol speel in die watertekorte wat Ikageng ervaar.
Watertekorte by die Vyfhoek-reservoir sowel as in dele van Ikageng het hierdie afgelope week weer die kollig op die JB Marks Munisipaliteit se dienslewering geplaas.
Dit nadat voortslepende beurtkrag die watervlakke aansienlik laat daal het en weer ‘n situasie geskep het waar watertenkwaens in Ikageng ingespan moes word as ‘n tydelike oplossing.
Sekere inwoners in die Bailliepark, Vanderhoffpark, Dagbreek, Mooivalleipark en Vyfhoekareas wat van die Vyfhoek-reservoir vir watervoorsiening verantwoordelik is, het geen water gehad nie, terwyl ander se waterdruk baie laag was.
Inwoners in Ikageng het ook weinig tot geen water tot hulle beskikking nie en moet van vragmotors gebruik maak wat water voorsien.
Die watervlak in die Vyfhoek-reservoir was op Vrydag, 20 Januarie slegs op 20% en het deur die loop van die week tussen 60 en 80% gestyg.
Volgens DA raadslid, Anné van Onselen het sy gevra dat daar fisies na die watervlak van die reservoir gekyk word aangesien die lesings nie altyd akkuraat is nie.
Een van die oorsake rondom die wisselvalligheid van die watervlak het glo ook te make met die feit dat slegs een lyn (die 450mm lyn) die reservoir tans volmaak. Die 250mm lyn is glo tans beskadig en een van die redes dat die reservoir nie konstant vol bly nie. Daar word verneem dat kontrakteurs met die herstel van die 250mm lyn sal begin.
VF Plus raadslid, Ian de Villiers, het ook verlede week genoem dat tydige optrede, beide in die kort en die langtermyn krisisse soos hierdie kon voorkom het.
Die JB Marks Munisipaliteit se woordvoerder, Jeanette Tshite, het die afgelope week ‘n persverklaring uitgereik waarin daar ook genoem word dat beurtkrag ook ‘n groot rol speel in die watertekorte wat Ikageng ervaar. Sy voer ook aan dat kragopwekkers ook versuim om dadelik in te skop wat die pomp van water vertraag.
“Hoogliggende gebiede rondom Wyk 1, 9, 18, 19, 20, 26 en 27 word grootliks geraak. Die Munisipaliteit se brandweer vragmotor is ook beskikbaar gestel om bykomende watervoorsiening te voorsien. Die primêre doelwit is om te verseker dat ons ten minste een vragmotor per wyk het, wat slegs water konsentreer en verskaf aan inwoners van die spesifieke area. ‘n Ander vragmotor sal fokus op die verskaffing van water aan verskeie sosiale fasiliteite, skole, klinieke, plekke waar daar begrafnisse en ander aktiwiteite plaasvind,” noem Tshite.
Volgens Tshite sal watervoorsiening ook normaliseer as die vlakke van beurtkrag verminder word.




