“Ek wil hê die outjies moet aanhou veg om bo uit te kom, want dit is hoe dit in die lewe ook gaan. Jy moet ‘n ‘fighter for life’ wees.” So verduidelik Divan Visser (30) hoofafrigter van Emmies se eerste rugbyspan sy benadering tot vanjaar se seisoen. Visser is ‘n Emmie in murg en been. Toe hy in gr. 5 was het sy ouers Potchefstroom toe getrek waarna hy na dié historiese skool gekom het. “Ek het na matriek by die Sharks
Akademie aangesluit. “Ek wou ‘n professionele rugbyspeler word. Ek is gekies vir die groep, maar het later uitgeval,” verduidelik hy.
Hy het toe besluit om Potchefstroom toe te kom waar hy aan die NWU begin studeer het. Hier het hy vir die Young Guns en die NWU klubspan gespeel. “Ek het nooit gedink ek gaan ‘n onderwyser word nie, maar terwyl ek studeer het, het ek ook laer- en hoërskole rugby afgerig. “In daardie tyd het ek tot die besef gekom dat dit iets is wat vir my belangrik is, veral die impak wat ek op die jong seuns se lewe kan hê.
“Ek het NGOS gedoen. Gelukkig kon ek ‘n pos by M.L Fick kry,” lag hy. By Emmies het Visser wortel geskiet en is nou sewe jaar by die skool. In dié tyd is hy tot departementshoof bevorder en is hy tans waarnemende adjunkhoof. Hy dien ook in die rugbybestuur van die Potch Sirkel, hy rig die NWU se tweedespan (Ibbies) af en is by die o.13 Luiperds XV-tal betrokke. Alhoewel dit nie maklik was nie, het Visser aanhou werk en baklei, net soos hy die seuns wil leer. “Ek het in 2017 met ‘n o.11 span begin. Met die proewe was die een seun so bang dat toe hy die bal kry, gee hy dit sommer dadelik weer uit. En nog vorentoe ook. “Ek het gedink dit is ‘n verbete stryd, maar ek was saam met hulle tot op o.13-vlak en hulle het elke week verbeter. Ons het ‘n paar sterk skole gewen,” lag hy. Volgens Visser is dit belangrik dat veggees en ‘n houding van nooit tou opgooi, by die afrigter begin. “Dit is die voorbeeld wat ek vir hulle stel. Al verloor ons, moet hulle nooit dink dat ek moed opgee nie, want dan gaan hulle ook,” verduidelik hy. Benewens die rugby staaltjies, staan geloof vir Visser aan die voortou van
alles wat hy doen.
“Geloof is vir my baie belangrik. As Christen trek ek dit deur na alles wat ons doen,” verduidelik hy. Visser se wortels strek diep in die Emmie-gemeenskap. Hy is duidelik passievol, nie net oor rugby nie, maar ook oor elke seun wat by Emmies deur sy hande gaan. Dit behoort ‘n goeie seisoen vir die
manne van M.L Fick te wees.



