Mesaanval: Man herhaaldelik met mes gesteek
“Hulle het my gegryp en my eerste in die regterbeen gesteek. Hulle het toe my rugsak gevat en toe ek wou weghardloop toe het hulle my verder in die rug ook vier keer gesteek."
Vyf mans het vroeg Saterdagoggend (28 Januarie), op die Bult in Steve Bikostraat op Jacque Janse van Rensburg (26) toegesak waarna hulle hom met ‘n mes herhaaldelik gesteek en hom van sy rugsak beroof het.
Janse van Rensburg vertel hoe hy van ‘n kuierplek ongeveer 02:45 terug huis toe gestap het. ‘n Nissan motorvoertuig het hom in Steve Bikostraat, net voor Rissikstraat voorgekeer. Twee mans het uit die motor geklim terwyl die bestuurder in die motor bly sit het. Daar was ook drie mans te voet wat hom agtervolg het en toe omring het.
“Hulle het my gegryp en my eerste in die regterbeen gesteek. Hulle het toe my rugsak gevat en toe ek wou weghardloop, het hulle my verder in die rug ook vier keer gesteek. Ek het 16 steke en 7 wonde waarvan almal baie diep is. Hulle wou my doodmaak, dit het gevoel of dit nie net oor die sak gaan nie,” vertel Janse van Rensburg.
Hy het terug gehardloop na die Bult se rigting waar een van sy vriende, Ruan Kleynhans, hom buite gekry het en gesien het dat daar fout is.
“Ek kan nie veel verder onthou nie, want ek het dadelik net voor die Wimpy flougeval van al die bloed wat ek verloor het.”
In sy rugsak was sy ID-dokument, beursie sowel as ‘n vape en ‘n kragbank (powerbank).
“Ek het my foon in my broek gedruk voor die tyd sodat iemand my nie van my foon beroof nie,” verduidelik Janse van Rensburg, nadat hy verlede jaar ook tydens ‘n roof sy foon verloor het.
Mooirivier Beskerming se CCTV-operateurs het teen 02:55 daardie oggend op beeldmateriaal waargeneem dat Janse van Rensburg se been bloei.

“Ons het die man se bebloede been om 02:55 opgemerk en teen 02:57 was ons by hom om te help,” noem Roland Bekker, CCTV-bestuurder by Mooirivier Beskerming.
ER24 se nooddienste het vir Janse van Rensburg op die toneel behandel voordat hy per ambulans na Potchefstroom Hospitaal geneem is.
“Ek is 10uur daardie Saterdagoggend ontslaan, maar ek het nie baie goed gevoel nie. Ek was Maandag weer terug vir ‘n opvolgbesoek en het toe antobiotika gekry. My lyf is nog baie seer, ek het hoofpyn en ek sukkel nog om my regterbeen te beweeg en voel nog naalde en spelde,” verduidelik hy.
Janse van Rensburg het gister (Dinsdag, 31 Januarie) ‘n saak van roof sonder ‘n vuurwapen by die polisie oopgemaak.






